Local newsMunicipalNewsNews

Die stadsteater: ‘n konsertsaal of sauna?

Mbombela-munisipaliteit sê hulle het klaar begin om die lugversorgingsisteem in die stadskouburg te verbeter.

MBOMBELA – Die vervalle toestand van die stadsteater het konsertorganiseerders en gehore warm onder die kraag. Gemoedere loop hoog ná ‘n konsert wat die afgelope Sondag deur die Laeveldse Kamermusiekvereniging daar aangebied is.

Op dié snikhete dag moes plaaslike musici en gaskunstenaars van Gauteng saam met die gehoor hyg na hul asems as gevolg van die lugversorging wat nie gewerk het nie. Trouens, die stelsel is al jare lank buite werking.

Tydens sy uitvoering het violis, Miro Chakaryan telkens die sweet van sy gesig afgevee.

Miro Chakaryan.
Miro Chakaryan.
Miro Chakaryan.
Miro Chakaryan.

 

Mnr. Walter Fourie van die vereniging sê die altvioolspeler Judith Klins het teenoor hom opgemerk dat sy nog nooit sulke ongemak moes verduur tydens ‘n optrede nie. Weens haar hande wat so gesweet het, het sy naderhand gesukkel om haar instrument behoorlik te hanteer.

“Dit maak ‘n groot impak op die gehalte van die vertoning, sê Fourie.

Die Laeveldse Kamermusiekverenging bied al sedert 2009 sowat vier keer per jaar musiekkonserte in die stadsteater aan.

Dit kos om en by R1 500 per dag om die saal te huur. Vir konserte neem Mbombela boonop 10 persent van die inkomste uit kaartjieverkope.”

Fourie sê die toestand van die saal stel hom in ‘n groot verleentheid.

“Ons nooi musikante van nasionale en soms internasionale gehalte om hier op te tree. Maar dit maak dit baie moeilik. Die plek verval van ‘n kant af; die ligte, die lugversorger, die gordyne…

“Ons maak maar die buitedeure oop en hoop mense word nie flou nie,” sê Fourie.

“Dit laat lawaai van buite af in en soms word ‘n tweede konsert in die saal onder bespreek. Dit is ‘n algehele fiasko.”

Die organiseerders van die Nelspruit Eisteddfod het in Augustus net so ‘n nagmerrie-ondervinding gehad.

Me. Thea Möller, voorsitter van die eisteddfod, sê dis ‘n krisis en ‘n gesondheidsrisiko.

“Ons het vir vyf weke daar gewerk,” sê sy oor die saal. “Die lugversorger werk al vir ‘n paar jaar nie. Ons het rondom dit gewerk. Ons het die groot roldeur agter die verhoog en die nooduitgang agter, oopgemaak vir ‘n trek. Dit het ‘n bietjie gehelp, maar dit is nie ideaal nie.

“Tydens die gala-aand, het ons nodig gehad om die verhoog toe te maak, maar die gordyne het nie gewerk nie. Ons het dit met behulp van toue met die hand toegetrek. Die ligte en klank is van so ‘n swak gehalte dat ons ander moes huur. Ons kon basies net die dop van die saal gebruik.”

Möller voeg by dat hulle self moes verseker dat daar toiletpapier en seep in die badkamers was. Aan die ander kant voeg sy by dat die munisipaliteit voor die aanvang van die eisteddfod alles van gebreekte deure tot toilette op die organiseerders se aandrang reggemaak het.

“Hulle hou dit skoon, moenie ‘n fout maak nie, maar hulle hou dit nie in stand nie.”

Mbombela Munisipaliteit sê hulle is deeglik bewus van die uitdagings. Daar is vanjaar R150 000 beskikbaar gestel om verbeteringe aan te bring. Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Joseph Ngala sal dit aangewend word om 100 sitplekke te vervang.

Ngala voer aan dat R500 000 hierdie finansiële jaar al begroot is vir die opknapping van die lugversorgingsinstallasie.

“Werk aan die verdampingskondensators is afgehandel. Ons sal nou aanbeweeg na een van die drie verkoelers. Daar word beoog om in die tweede week van Oktober te begin.”

Mbombela se langtermynplan soos vervat in die geïntegreerde ontwikkelingsplan, is om oor die volgende twee jaar R1,5 miljoen per jaar beskikbaar te stel vir die opknapping van die lugversorging.

“Weens die koste vebonde aan die werk, moet dit oor verskeie jare plaasvind,” verduidelik Ngala. “Op ‘n stadium sal ons ook moet kyk na ‘n groot kapitale inspuiting om die verkoelers, wat ouer as 25 jaar is, te vervang. Om onderdele daarvoor te bekom, word al hoe moeiliker. Nuwe ongewingswetgewing verplig ons ook om alle toestelle wat R22-gas gebruik met nuwe toestelle wat R410-gas gebruik, te vervang.”

Ngala sê verder dat die munisipaliteit se diensteverskaffer net tydens kantoorure werk. “Ons het voorgestel dat ‘n fooi gevra moet word vir die verskaffing van skoonmakers en verbruikbare goedere in toilette vir elke funksie. Hierdie tariewe kan onderhandel word en kan deel uitmaak van die betaalbare deposito.”

Maar, sê Ngala, dit is ook ‘n feit dat die algemene publiek die plek misgebruik. Daar was al gevalle van vandalisme en die beledeging van sekuriteitsbeamptes.

“Ons moet ‘n sin van eienaarskap vestig. Dit kom voor asof vandalisme nie deur verantwoordelike burgers ontmoedig word nie. Dit lyk asof mense dink die stadsraad het ‘n bodemlose put fondse waarmee hulle dit wat goedsmoeds gevandaliseer word, kan regmaak.”

Möller sê sy wil nie weer die eisteddfod in die saal aanbied nie. “Ons sal kyk na ander opsies. Ons moet oorweeg om dit volgende jaar op ‘n ander plek aan te bied.”

Maar volgens Fourie is dit nie so maklik om die kamermusiekkonserte na ‘n ander plek te verskuif nie.

“Jy benodig die regte akoestiek, sitplekke wat in lae gestapel is, en iemand wat vir jou die kaartjieverkope kan behartig. So word ‘n mens amper geforseer om dit aan te hou gebruik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button