GalleriesLocal newsNewsNews

Twee gesinne verken die Laeveld op ongewone wyse

"Kyk, op só 'n tog, moet 'n mens maar lig pak, so ons het net een stel klere om in te ry en in te slaap."

MBOMBELA – Die meeste mense durf die lang pad see toe aan sodra die skoolvakansie aanbreek. Die De Bruins en Vermeulens het egter letterlik ‘n perd van ‘n ander kleur opgesaal om van die stad se lawaai weg te breek.

Hulle is tans besig met ‘n 130km-tog op perde wat oor vyf dae sal strek. Hulle sal in Machadodorp eindig, maar dié vakansie gaan eerder oor die reis as die eindbestemming.

Stefanie "Baby Spice" Vermeulen.
Stefanie “Baby Spice” Vermeulen.

“Ons het al die hele jaar gedink om só ‘n tog te onderneem en die afgelope maand daaraan beplan,” vertel Marius Vermeulen. “Dit is ‘n lekker manier om te verhoed dat die kinders die hele vakansie TV kyk.”

Die sewe ruiters het Woensdagoggend vanaf hul plaas naby Duma Lodge vertrek. Motoriste se oë het gerek toe hulle op die N4 onderweg na Malalane, dié toergeselskap opgemerk het. Hulle roete is deur Mbombela, oor die Hermansburg-pad na Kaapsehoop en vandaar na ‘n area met die naam Bloemfontein, naby Machadodorp.

Tian de Bruin, Corné Vermeulen, Erika de Bruin, Marius, Marike, Stefanie en Chrisné Vermeulen.
Tian de Bruin, Corné Vermeulen, Erika de Bruin, Marius, Marike, Stefanie en Chrisné Vermeulen.

Die Vermeulens besit Korma Herbs and Spices, wat geurmiddels aan kleinhandelaars verskaf. Hulle bestemming is dan ook dié kruieplaas naby Machadodorp. Die gesin se byname vir mekaar verwys spottenderwys na kruie.

“Ons het reeds voor die tyd die roete gery en kos vir die perde by verskillende ruspunte gestoor,” het Pappa Spice (Marius) gesê. “Kyk, op só ‘n tog, moet ‘n mens maar lig pak, so ons het net een stel klere om in te ry en in te slaap,” het Erika de Bruin bygevoeg. Die jongste van die groep, Stefanie (Baby Spice), is nege jaar oud en ry al twee jaar lank perd. Omdat sy die ligste is, moet sy die meeste van die bagasie dra.

Chrisné "Ginger Spice" Vermeulen.
Chrisné “Ginger Spice” Vermeulen.

“Ons is baie verbaas oor hoe onder-steunend mense oor ons tog is,” het Corné, Mother Herb Vermeulen gesê. “Mense sal langs die pad stilhou en vir ons water aanbied. Ander wil net die perde afneem en vryf.”

Die ruiters pak slegs vyf uur per dag aan, sodat die diere nie te uitgeput word nie. “Ons vertrek so 05:00 elke dag en hou stil voordat dit te warm word.”

Alhoewel die konvooi nie ‘n ondersteu-ningsvoertuig het wat die hele pad saam met hulle ry nie, het hulle gereël dat daar iemand in hul omgewing is wat geskakel kan word indien nodig. “Ons het ook twee perdebokse byderhand. Indien een van die perde iets oorkom, kan ons hulle darem vervoer,” het Marius gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button