Oudhoof deel herinneringe van 50 jaar gelede
Baie inwoners onthou seker nog vir mnr. Peet Otto, die skoolhoof wat in 1991 afgetree het. Kort daarna het die plaaslike geskiedkundige, mnr. Hans Bornman, hom versoek om sy herinneringe as onderwysman in die Onderberg kortliks op skrif te stel.
MALALANE – Baie inwoners onthou seker nog vir mnr. Peet Otto, die skoolhoof wat in 1991 afgetree het. Kort daarna het die plaaslike geskiedkundige, mnr. Hans Bornman, hom versoek om sy herinneringe as onderwysman in die Onderberg kortliks op skrif te stel.
Die netjiese handgeskrewe dokument is nou in besit van Mpumalanga Erfenis wat dit tot die beskikking van Corridor Gazette gestel het:
Op 25 Julie 1964 neem ek beheer oor van Laerskool Malelane en die koshuis met 24 kosgangers. My vrou sou as koshuismoeder, matrone, kok, huiswerkopsigter, ensovoorts optree. Die koshuis was gevestig in ‘n vierslaapkamerwoonhuis met twee badkamers en ruim kombuis, eetkamer, baie groot sitkamer en stoep toegemaak in gaas.
Hierdie huis was opgerig deur ‘n groep ouers en mnre. Danie de Waal (‘n boer) en Rob Ferreira. Dit is aan die destydse Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) teen R138 per maand verhuur. Later, rondom 1970 is dit dan ook deur die department aangekoop en aan Fauna en Flora beskikbaar gestel. Tans word die huis deur die stasiebevelvoerder van die SAPD op Malalane bewoon.
Die koshuis was ‘n sogenaamde “goedgekeurde” koshuis, wat beteken het dat die TOD die akkommodasie en huisvesting verskaf, maar dat ‘n komitee van ouers die koshuis bestuur, die losiesgeld invorder en alle uitgawes daarmee delg. Geld was maar skaars. My vrou het nooit ‘n sent vergoeding vir haar werk ontvang nie. Na die koshuis gesluit is, was daar darem ‘n brief van waardering van die direkteur van onderwys uit Pretoria. Eintlik het die koshuis ontstaan omdat daar geen skoolbusroete van Lomati en Kaalrug af was nie. Ons het die dogters in drie van die slaapkamers tuisgemaak en die seuns op die stoep laat slaap. Intussen het die suikermeule gegroei en ons leerlingtal daarmee saam. Op 3 Augustus 1966 was hier genoeg Engelse leerlinge om ‘n Engelsmedium-klas te begin. Ek het al die Engelse leerling in een groep, gr. 1 tot st. 5 geplaas en mev. Magriet Grinstad (dogter van dr. Koos Burger) aangestel as onderwyseres.
Op 3 Augustus 1966 het ons skool dus ‘n parallelmediumskool geword. Ironies genoeg het dit daartoe gelei dat ek, ‘n prominente Afrikaner, hier plaaslik toe as ‘n “jingo” uitgeskel is! Met die koms van die Engelsmedium-afdeling het ons leerlinge getrek wat eers elders in Engelstalige skole was en het ons heel gou drie Engelstalige klasse gehad.
Ook het ‘n aantal leerlinge uit Swaziland en Mosambiek hier ingeskryf en het die koshuis te klein geword. Met die hulp van mnr. Rob Ferreira (wat blykbaar enigiets kon regkry!) is ‘n voorafvervaardigde asbes-koshuiseenheid van elders af hiernatoe oorgeplaas. Dit is einde 1966 hier opgerig, waar die administratiewe kantore vandag is. Die koshuiseenheid het twee slaap- sale, twee ablusieblokke en ‘n woonstel vir toesighoudende personeel gehad. Ons het al die st. 1- tot st. 5-leerlinge daarin geplaas en een van ons onderwysers, mnr. HJ van Staden en sy vrou as toesighouers daar geplaas.
Die kleiner kinders het by ons in die huis gebly. Die eetsaal was by ons in die huis. Die koshuis het uiteindelik 71 leerlinge gehuisves. Ons het die koshuis tot 26 Maart 1971 bedryf waarna dit gesluit is omdat ‘n bus van Lomati af begin loop het. Die buitelandse leerlinge is toe almal Nelspruit toe. Op
25 Januarie 1973 was ons leerlingtal 295, waarvan 57 Engelsmedium was.
Op 25 Mei 1973 word die nuwe skoolsaal amptelik deur die direkteur van onderwys,
dr. AL Kotzé geopen. Gedurende Augustus 1973 word die pas voltooide sportterrein (deur ‘n kontrakteur teen R25 037 gebou) in gebruik geneem: ‘n rugbyveld, twee netbalbane, atletiekbaan en twee tennisbane.
Terloops, die eerste ding wat ek hier aangepak het in 1965, was die bou van ‘n ordentlike swembad. Dis in 1966 teen R14 800 voltooi. Met die bou van verskeie teerpaaie in die Onderberg is ‘n groot padkamp op “Laughing Waters” geplaas en was ons getalle op 10 Mei 1977 op een na 396 leerlinge.
Die padkamp verskuif later na Witrivier en ons getalle daal na 360 leerlinge. Hierna begin ons getalle wipplank ry as gevolg van sporadiese werkery deur kontrakteurs van elders aan die suikermeule.
Op 3 Maart 1989 word ons eerste ware administratiewe gebou in gebruik geneem. Dit is ‘n pragtige, ruim, goedbeplande eenheid wat in 1968 reeds goedgekeur is. Tans (1991) is die leerlingtal 330 waarvan
60 Engelsmedium is.
Malelelane-dorp en hierdie skool het sy groei aan TSB te danke tot ongeveer 1983. Daarna het sakeondernemings hier gevestig om die inwoners van Kangwanete te bedien en het die sakeaspek werklik groot geword. Ek self tree op 31 Desember 1992 uit die diens, na 28 jaar op Malelane. Ek bly aan op Hectorspruit. Hier sluit mnr. Otto af.
Lesers wat hulle herinneringe aan hom wil deel, word genooi om iets te skryf en te stuur aan mariusb@lowvelder.co.za of om dit by ons kantoor op Malalane af te gee. Kyk ook vir ou skoolfoto’s of jaarboeke wat ons kan skandeer om die foto’s vol herinneringe hier in die Corridor Gazette te plaas.
