Oud-inwoner sorg vir bedreigde rankplant se voortbestaan
Dis nou bewys dat mnr. Basie Joubert werklik geseënd is met groen vingers nadat hy sy plantkennersvernuf gebruik het om ‘n bedreigde Ceropegia rankplant spesie van uitwissing te red

BURGERSFORT – Dis nou bewys dat mnr. Basie Joubert werklik geseënd is met groen vingers nadat hy sy plantkennersvernuf gebruik het om ‘n bedreigde Ceropegia rankplant spesie van uitwissing te red.
Joubert se belangstelling in orgideë kom van jongs af, maar met sy bedrywige lewe as pastoor en omroeper het hy sy stokperdjie opsy geskuif, totdat hy vyf jaar gelede gediagnoseer is met kanker en besluit het om sy lewe voluit te leef. Daarna het hy weer volstoom voortgegaan het met sy orgideë-versameling.
“Ek woon op ‘n plaas net buitekant Lydenburg en het vir nege jaar my eie Christelike radiostasie van my huis af bestuur, maar so ‘n paar jaar gelede is ons van die lug af en nou bestuur ons die uitsending via die internet,” voeg hy by.
In September 2014 het Joubert ‘n eerste plek by die 21ste Wêreld Orgideë-konferensie in Johannesburg verower vir sy rare spinnekop orgidee- spesie, die Bartholina Burmanniana, en ook ‘n algehele tweede plek in die orgideë-fotografiekompetisie behaal.
Oktober verlede jaar het een van Joubert se luisteraars hom vertel van ‘n bedreigde spesie in die Burgersfort-vallei. “Ons is toe uit na die area en my soektog vir dié orgidee het begin, maar waarop ons toe afkom, was nie net een orgidee nie, maar Eulophia leachii, Eulophia petersii, enkele Eulophia speciousa en die uiters skaars Ceropegia-rankplant.
“Die Ceropegia moes korrek geïdentifiseer word en ek het dr. Kyle Dexter van Edinburgh Universiteit geskakel wat gehelp met die identifisering omdat daar so min en swak navorsing oor die spesie is. Hy het my bevinding gestaaf, maar om doodseker te maak, het ons op 4 Januarie tydens blomtyd teruggegaan en ons bevinding bevestig – dit was die Ceropegia.”
Op pad huistoe, nadat Joubert die ontdekking die eerste keer gemaak het, het hy ‘n kennisgewing teen ‘n heining gesien wat aangedui het dat ontwikkeling in daardie omgewing gaan plaasvind en dat die sluitingsdatum vir vertoë reeds verby was. Hy het die ontwikkelaars van die projek geskakel en slegs 12 hektaar aangevra om die Ceropegia te bewaar. Daar is aanvanklik mondeling ooreengekom om die area te beskerm, maar na die voorlopige omgewingspakstudie bekendgemaak is, is daar nie vir die bewaring van die hele area voorsiening gemaak nie.
Daarna het Joubert heelwat navorsing gedoen en het ‘n beswaar aangeteken by die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme rakende die bedreigde Ceropegia-spesie en die vernietiging daarvan ás die ontwikkeling sou plaasvind. Nadat al die navorsing noukeurig deur die departement nagegaan is, is daar besluit om die ontwikkeling te stop en dat die hele 29,38 hektaar afgekamp sal word as ‘n bewaringsgebied vir die spesie se voortbestaan.
Joubert het groot nuusopslae in die plantwêreld gemaak en is genooi om in Januarie 2016 ‘n toespraak te lewer oor sy reddingsprojek by die Wild Orchids Southern Africa (WOSA) in Dullstroom.
“Ek is nie ‘n geleerde plantkundige nie,” vertel Joubert. “Die kennis wat ek het, is afkomstig van my passie en liefde vir die natuur. Ek is baie trots op myself, want as ‘n gewone individu het ek ‘n hele orgidee-spesie van uitwissing gered. Mense moet meer bewus raak van hul omgewing. Daar is soveel plantspesies rondom ons en as ons dit nie raaksien nie mis ons die skoonheid daarvan. Selfs as ek sommige oggende opstaan en olik voel van die kanker, besef ek net weer dat die Here bestem het dat hierdie pragtige blomme spesifiek op daardie oomblik blom sodat ek Hom daarin kan verheerlik. As mens is dit ons werk om bedreigde plante en diere te bewaar virtoekomstige geslagte,” sê hy.



