Mnr. en Mej. Komati word gekroon
Komatipoort Akademie het verlede Vrydagaand sy heel eerste Mnr. en Mej. Komati Akademie gekroon

KOMATIPOORT – Komatipoort Akademie het verlede Vrydagaand sy heel eerste Mnr. en Mej. Komati Akademie gekroon.
Die kompetisie het die lentebal vir hoërskoolleerlinge op dieselfde aand voorafgegaan. Daar is groot moeite deur die organiseerders gedoen om dit ‘n geleentheid te maak waarop die skool trots kon wees.
Enige hoërskoolleerder kon inskryf, waarna die leerlinge vir hulle gunstelinge kon stem. Dié met die meeste stemme het die geleentheid gekry om hul lyfies model te hou, en in drie verskillende uitrustings, twee informeel en een semiformeel, hul beste voetjie voor te sit.
Die hoofbeoordelaar was Chimoné Kok, ‘n voormalige Mev. Suid-Afrika-finalis in 2013, wat baie ondervinding met skoonheidskompetisies en die beoordeling daarvan, het. Sy was ‘n model in Orlando, Florida. Sy is ook ‘n sangeres en Heinz Winckler het haar CD in sy ateljee laat opneem.
Elisia Lee, ‘n professionele fotograaf, het haar bygestaan, asook Melissa van Zyl wat baie ondervinding met en passie vir diè kompetisies het.
Nastassja Pretorius wat self graag sing en ‘n skoonheidsterapeut by ‘n haarsalon in die dorp is, saam met Herklaas Smit, die enigste man op die paneel, was ook deel van die bekwame span.
Agt seuns en agt dogters is as finaliste gekies. Elkeen het die geleentheid gehad om ‘n vraag te beantwoord, wat die beoordelaars se besluite kon beïnvloed. Leerders is op veel meer as net mooi gesiggies beoordeel.
Hulle moes selfvertroue toon en ook ‘n ambassadeur vir die skool wees. Marian du Plessis het al die borge, sowel as die beoordelaars wat die aand moontlik gemaak het, bedank.
Sy het opgemerk dat die geleentheid ook gereël is om die kinders se selfvertroue te verbeter. Sy het tydens die program die gehoor met haar pragtige stem vermaak, terwyl een van die onderwyseresse, Vanette Viljoen, almal soms laat skaterlag het met haar groot verskeidenheid liedjies wat sy gesing het.
Die uitslae was soos volg:
Mnr. en Mej. Komati Akademie: Angelique Stronkhorst en Lourens Stassen
Eerste prinses: Nadine Dunn
Tweede prinses: Lizel Potgieter
Eerste prins: Joubert Willers
Tweede prins: Danie Bothma
Mnr. en Mej. Persoonlikheid: Angelique Stronkhorst en Tian du Pont.
Mnr. En Mej. Fotogenies: Marné Vermaak en Henco Minnaar.


