Twee rugbyhelde is almal se trots
Komatipoort Akademie het die afgelope skoolvakansie nie minder nie as twee leerlinge gehad wat op internasionale vlak rugby gespeel het
KOMATIPOORT – Komatipoort Akademie het die afgelope skoolvakansie nie minder nie as twee leerlinge gehad wat op internasionale vlak rugby gespeel het.
Tian du Pont het vir die SA o/14-Bokkiespan in Namibië uitgedraf en Joubert Willers het die land in die o/16-span Georgië verteenwoordig.
Die skool is baie trots op hierdie seuns.Joubert wat in die nommer 13-trui speel is vanjaar in gr. 9. Hierdie veelsydige sportman het ook talle ander talente. Hy was onderhoofseun in gr. 7 en in die afgelope Mnr. en Mej. Komati-kompetisie is hy as die eerste prins verkies.
Die span het drie wedstryde gespeel. In hul eerste wedstryd teen Wes-Georgië het hulle met 20-7 geseëvier. Teen die nasionale o/16-span het hulle gelykop geëindig met 17-17 en toe in die tweede kragmeting teen Wes-Georgië met vier punte, 14-18 verloor.
“Die ondervinding was baie spesiaal en fantasties. Die rugby was baie vinnig en die heeltyd fisies hard. Ek sal beslis weer SA Bokkies speel. Al wat dit bietjie moeilik gemaak het, was dat die mense van Georgië sukkel met Engels. Ons toergids was uitstekend,” vertel Joubert.
