Local newsNewsNewsSchools

Kleuters sit hulle beste voetjie voor in konsert

"Nie almal weet hoeveel geduld, tyd en werk gaan in so 'n eenvoudige konsert nie!"

KOMATIPOORT – Toddle Tots se jaarlikse konsert was Vrydag nie net kort en kragtig nie, maar ook pragtig.

Van die ouer kleuters het die geleentheid gehad om hulle dramatalent in te span en ‘n nuwe, moderne weergawe van Rooikappie is voorgestel.

Die kleingoed het in groepe opgetree en juf. Tarryn Marits en juf. Candice Delport het hulle goed van hul taak gekwyt om hulle al die danspassies te leer.

Die kinders het dit gate uit geniet en daar is gedans dat die stof so staan op die liedjies soos, “These Boots are Made for Walking”, “Bob the Builder”, “Pat a Cake”, “What Does the Fox Say?” en “Teddy Bear Picnic”.

Die Drie Varkies, Gemmerbroodmannetjie, Gouelokkies en die Minions het ook ‘n draai op die stel van Rooikappie kom maak. Aan die einde het almal op die verhoog verskyn en tesame laat waai met “Party Time”.

Die lyfies het geskud en die voete het op die ritme en soms van die ritme af beweeg, en elkeen het op sy eie kreatiewe manier die laaste dans voltooi.

Gewoonlik is daar een of twee jong kannetjies vir wie die oomblik te groot is wanneer die gordyne oopgaan. Al praat juffrou mooi en die ouers probeer met ‘n omkoopgeskenkie vir boet of sus daar bo te hou, moes hulle maar genoeë neem dat daar nie ‘n foto geneem sou word van die kleinding se konsertkostuum waaraan so hard gewerk is nie.

Vanjaar was dit ‘n heel ander storie. Almal het enduit hul ding gedoen en dit was gans te lekker om vir pa en ma so in die kollig te wys wat hul alles kan doen.

Die onderwysers het baie hard gewerk om die konsert op die planke te bring. Die skoolhoof, me. Nadia Goncalves het haar personeel bedank.

“Nie almal weet hoeveel geduld, tyd en werk gaan in so ‘n eenvoudige konsert nie!” Sy het ook dank betoon aan almal wat behulpsaam was met die dekor, en die vroue wat gehelp het met die maak van kostuums.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button