NewsSchools

NHS se geliefde Oom Hendrik vier 90ste verjaarsdag saam met leerders

NHS het hom verlede week met sy verjaarsdag op die hande gedra.

MBOMBELA – Hy was nooit ‘n onderwyser nie, maar Hendrik Strydom is al ‘n instelling by Hoërskool Nelspruit (NHS).

Oom Hendrik is wel nog werksaam by die skool, en toe hy verlede week sy 90ste verjaarsdag vier, het die leerders het hom letterlik op die hande gedra.

Na al die dekades wat hy al by die skool betrokke is, eers as ouer en later as ondersteuner, het hy kennelik baie geliefd onder die leerders en personeel geraak.

Hy was een van die stigterlede van die Nelliesklub 1000, wat jaarliks projekte bestuur om geld in te samel waarmee die skool se geriewe verbeter word.

Na sy aftrede vanuit sy werk by die spoorweë het die destydse hoof hom gevra om die skool se verlede ‘n bietjie na te vors om tradisies te help skep.

“Dit moes eintlik net vir vyf maande wees, maar dit verander toe in 18 jaar,” sê hy.

Tans is hy in beheer van die 101-jarige skool se argiewe, wat hulle beplan om volgende jaar in ‘n volledige museum te omskep.

Met sy verjaarsdagvieringe Donderdag het die leerders hom eers by die voorportaal verras. Die nuutverkose bestuurskomitee het hom op ‘n troon rondgedra en met palmtakke gesalueer.

oom hendrik NHS mnr Hendrik Strydom en Wessel Gelderblom (800 x 533)

Hy is nog altyd ‘n groot Blou Bul-ondersteuner, en die leerders het verseker dat hy met ‘n Bulvlag afgeneem word.

Sy kleindogter, Carlien Coetzee wat tans in gr. 10 is, het die verjaardagkoek met sy gesig op aan haar oupa oorhandig.

“Dit was omtrent ‘n affêre,” sê hy aangedaan. Sy eie kinders, saam met sy oorlede vrou Rina, het amper almal na skool onderwys studeer.

Twee van sy seuns werk steeds in die beroep.

Dinge het baie oor die jare verander. Van die opvallendste veranderinge vir Oom Hendrik is dat die meeste kinders se ma’s nou voltyds werk.

oom hendrik NHS Carlien Coetzee kleindogter en Hendrik Strydom (800 x 533)

“Maar die belangstelling en samewerking met die skool is steeds daar. NHS se ouers is nie hardkoppig nie.”

Hy is baie lief vir kinders, en hy is bly lyfstraf in skole is afgeskaf.

“Ek dink ons was wreed. Ons het in die ou dae eintlik sulke vreemde idees gehad,” lag hy.

“Die kerk het ‘n baie sterk invloed op ons gehad. Toe ek op 25 as diaken in die kerk voorgestel is, was dans mos sonde. Ek het ophou dans, en het nog nooit weer gedans nie.

“Ek sê altyd jy moet ‘n kind nooit afkraak nie. Jy moet altyd vir hom sê hy is goed.” Hy kan ook nie uitgepraat raak oor die huidige hoof, dr. Louis Swanepoel nie. “Daar is ‘n besonder mooi gees onder die bestuur en personeel.

“Dit is sy leiding en die personeel en ouers se ondersteuning wat NHS een van die beste skole in die land maak.

“Hy is ‘n besondere man met baie talente.” Self oorweeg Oom Hendirk dit nie eens om af te tree uit sy aftreejoppie nie. “Van leeglêery, dan is die duiwel se invloed sterk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button