Local newsNews

ICD-10-kodering: Bipolêr of depressie?

Volgens Medihelp moet antidepressante met groot omsigtigheid aan bipolêre pasiënte voorgeskryf word. Navorsing waarsku dat antidepressante 'n maniese episode by lyers kan induseer.

MBOMBELA – Melanie Kock* drink Lexamil vir depressie en angsversteuring. Dit behoort aan ‘n groep medisyne wat as selektiewe remmers van serotonienheropname (beter bekend as SSRI’s) bekend staan en kos in die omgewing van R150 per maand. Melanie vertel dat sy eintlik Cipralex behoort te drink, maar eerder die generiese middel, Lexamil gebruik, aangesien die Cipralex teen R365 per maand te duur is.

Melanie behoort aan Medihelp se mediese skema en is op die Dimension Prime 3-opsie wat in die omgewing van R2 000 per maand kos. Die volgende beskikbare opsie is Dimension Elite en sal haar ongeveer R3 600 uit die sak jaag. Die Dimension Prime 3-opsie betaal slegs chroniese medikasie vir die sogenaamde VMV’s (voorgeskrewe minimumvoordele).

Ingevolge die Wet op Mediese Skemas is daar ‘n reeks dienste en toestande wat deur mediese skemas as VMV’s gedek móét word. Dit sluit mediese noodgevalle, 270 gelyste diagnoses met hul behandeling en 26 chroniese siektes in. Daar is slegs twee geestessiektes op dié lys, bipolêre gemoedsteurnis en skisofrenie.

Depressie en angsversteuring is nie een van die VMV’s nie en mediese skemas is dus nie verplig om antidepressante as chroniese medikasie te betaal nie – alhoewel sommige skemas, byvoorbeeld Profmed, dit in sekere van sy opsies dek.

Volgens Medihelp sal dit wel in sekere gevalle die betaling van antidepressante oorweeg. Hulle benadruk egter dat die beste belang van die lid op die hart gedra word en dat beste praktykbeginsels streng nagekom word. Om vir chroniese voordele in aanmerking te kom, moet die lid ‘n aansoekvorm voltooi en saam met dit ‘n kort mediese geskiedenis en die korrekte ICD-10-kodes aan Medihelp verskaf.

Melanie vertel dat die mediese praktisyn wat haar behandel aangebied het om die ICD-10-kode te verander na die kode van bipolêr ten einde die mediese skema te dwing om vir die antidepressante uit die chroniese voordeel te betaal.

Hy het ook aangebied om ‘n anti-konvulsiemiddel (wat gewoonlik vir epilepsie voorgeskryf word) voor te skryf om gewigstoename as newe-effek te reguleer. Sy het geweier aangesien dit oneties is.

Op Melanie se mediese rekord by die skema, sou sy dus aan bipolêre gemoedsteurnis ly, terwyl sy eintlik aan depressie en angsversteuring ly. Die probleme hier rondom spreek vanself.

Volgens dr. Elsabé Conradie, woordvoerder vir die Raad vir Mediese Skemas (RMS), is daar reeds verskeie klagtes rondom hierdie optrede deur mediese praktisyns ontvang – alhoewel Medihelp te kenne gee dat dit nie dikwels daarmee gekonfronteer word nie. Sy beklemtoon dat dit neerkom op onaanvaarbare mediese praktyk en bedrog. Sy verduidelik verder: “Die bipolêre algoritme spesifiseer dat geen antidepressant voorgeskryf mag word sonder dat ‘n gemoedstabiliseerder daarmee saam voorgeskryf word nie. Soms word gemoedstabiliseerders wel vir depressie voorgeskryf. Dit is dus baie moeilik om bedrog te bewys.” Sy vertel van gevalle wat deur die RMS ondersoek is waar die mediese praktisyns gemoedstabiliseerders voorgeskryf het, maar spesifieke instruksies aan pasiënte gegee het om dit nie te drink nie.

Medihelp bevestig dat dit een van die maatreëls is wat streng toegepas word ten einde bedrog te voorkom: Geen chroniese antidepressante word vir bipolêre steurnis goedgekeur indien dit nie van gemoedstabiliseerders vergesel word nie.

Volgens Medihelp moet antidepressante met groot omsigtigheid aan bipolêre pasiënte voorgeskryf word. Navorsing waarsku dat antidepressante ‘n maniese episode by lyers kan induseer.

Die uitvoerende amptenaar van Bonitas-mediese skema, dr. Bobby Ramasia, sê dat topiramate, ‘n antikonvulsiemiddel, ook soms as gemoedstabiliseerder voorgeskryf word. ‘n Newe-effek van hierdie medikasie is gewigsverlies.

Dr. Conradie beklemtoon dat dit onaanvaarbare mediese praktyk en bedrog is indien topiramate slegs vir doeleindes van gewigverlies aan depressie-pasiënte voorgeskryf word.

Volgens Ramasia is die kwessie van verkeerde ICD-10-kodering ‘n groot probleem wat algemeen en nie slegs by depressie en angsversteuring voorkom nie. Bonitas het verskeie interne prosesse in plek om die potensiële misbruik van ICD-10-kodes aan bande te lê.

Maar waarom is verkeerde kodering so ‘n ernstige oortreding? Behalwe vir die feit dat dit op bedrog neerkom, bestaan daar ook ‘n moontlikheid dat dit daartoe bygedra het dat die voorkoms van bipolêre steurnisse in Suid-Afrika die hoogtes ingeskiet het. Die RMS spreek in ‘n verslag hul kommer hieroor uit – die voorkoms hiervan het, byvoorbeeld, tussen 2006 en 2011 met meer as 200 persent gestyg.

Vroeër vanjaar het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, voorgestelde veranderinge aan Regulasie 8 van die Wet op Mediese Skemas, wat met VMV’s handel, in die Staatskoerant gepubliseer. Die voorgestelde veranderinge sal tot gevolg hê dat mediese skemas nie meer wetlik verplig sal wees om alle medies kostes rondom VMV’s ten volle te vereffen nie.

‘n Mens moet wonder oor die redes vir hierdie veranderinge. Kan dit dalk wees omdat spesialiste en lede van mediese skemas chroniese voordele uitbuit en sodoende premies opstoot en mediese skemas finansieel lamlê?

* ‘n Skuilnaam is gebruik vir privaatheidsdoeleindes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button