Onnies ontvang blyk van waardering
Daar is hard gewerk en gesweet by die twee kleuterskole wat binne die volgende twee Vrydae hul Kersopvoering moet aanbied, en by Komatipoort Akademie word alles reggekry vir die eksamens
Nasionale Onderwysersdag was op 6 Oktober en verteenwoordigers Sonja Nel, Mandi Hilton en Tom en Annemarie Esterhuizen van die Onderberg-tak Solidariteit Helpende Hand, het besluit om die daad by die woord te voeg en iets te doen om hul waardering teenoor Komatipoort se onderwysers te betoon.
Op Maandag 19 Oktober het hulle die dorp se twee kleuterskole, Toddle Tots en Kwetternes besoek en daarna ‘n draai by Komatipoort Akademie gaan maak. Daar is aan elke onderwyser en hulponderwyser ‘n vetplant in ‘n versierde beker as blyk van waardering oorhandig. Hulle is vir hul harde werk, tyd, liefde en opoffering en die groot rol wat hulle op die beginpad van hierdie jongelinge se lewens speel, bedank.
Daar is hard gewerk en gesweet by die twee kleuterskole wat binne die volgende twee Vrydae hul Kersopvoering moet aanbied, en by Komatipoort Akademie word alles reggekry vir die eksamens. Die beskeie daad het egter baie vir die leerkragte beteken en die span vrywilligers vertel dat dit hulle dag die moeite werd gemaak het om die onnies se uitdrukkings te sien.
Sonja Nel het ook namens die tak aan elke skool die ondersteuning van Solidariteit Helpende Hand verseker.
