Kleuters het gesing en gedans en selfs ouers en onderwysers was deel van die pret. Oudleerlinge het ook ‘n huldeblyk aan eienaar Antoinette de Beer vir 21 jaar se harde werk en toewyding gebring.
Antoinette vertel dat sy en Erika Kok die kleuterskool op 2 Februarie 1994 geopen het. Hulle het met vier kinders begin, van wie drie hulle eie was en die skoolfonds was slegs R230 per jaar. Haar eerste salaris na ses maande was R76.
Erika het later onttrek en Antoinette het die skool oorgeneem.
Erika Kos se twee seuns, Studler en Springbok-sewesrugbyspeler Werner (wat ‘n Springbok-sewesrugbyspeler is), is van die talentvolle leerlinge wat die skool opgelewer het.
Na ‘n paar jaar se groei, is daar besluit dat die skool moet skuif en Antoinette het Herman Steyn genader. Hulle het toe na sy plot getrek en die huidige gebou is deur die Steyns opgerig.
Antoinette vertel dat sy plaasdiere aangeskaf het om kinders aan die plaaslewe bloot te stel. Eers was daar Nols die bok, asook hasies en eende en later het Bacon die vark ook by die plaas aangesluit. Daar is ‘n groentetuin aangelê en die kleintjies het dit vreeslik geniet om hul eie groente te oes.
Plaaswerf het ‘n gemiddeld van 70 kinders, ‘n groep wat klein genoeg is sodat elke kind genoegsame aandag kry. Van babas tot gr. R’e word hier opgevoed en opgepas en buitemuurse aktiwiteite soos Playball en Monkeynastix sorg ook vir groot pret.
Plaaswerf het sy eie beheerliggaam en Antoinette wil elk van die lede bedank vir die reusewerk wat hulle doen. Sy wil ook baie dankie sê aan haar huidige en vorige personeellede wat diep spore in haar hart getrap het.
“Aan almal wat op een of ander manier Plaaswerf se pad gekruis het, wil ek groot dankie sê. Om vir 21 jaar in die huidige ekonomiese toestande te oorleef, is voorwaar net genade. Aan die Here wil ek al die eer en die dank gee.”
Gaan kyk na meer foto’s hier.





