Skoolhoof Riëtte Krüger het tydens die afskeidseremonie ‘n sertifikaat aan Elliot Nkosi oorhandig en uitgewei oor sy werk en geaardheid. Na 43 jaar se getroue diens, roep Elliot Nkosi die leerlinge en personeel van Witrivier Preprimêr vaarwel.
Nkosi het in 1972 as 17-jarige by die munisipale swembad langs die skool gewerk toe die destydse skoolhoof, me. Sheila Starling hom raakgesien het. Sy het hom gevra om vir die skool te kom werk wat in daardie stadium net uit een klas bestaan het.
Krüger vertel dat hy deur die jare vir almal ‘n voorbeeld was – altyd vriendelik, geduldig en hardwerkend. Hy was trots op sy werk, het dit geniet en plesier daarin gevind.
Hy het ook in die dorp ‘n bekende gesig geword. Elke oggend is hy met sy SPAR-trollie dorp toe met die lysie aankope vir die skool.
Volgens Krüger is dit glad nie maklik om die enigste man op die perseel te wees nie. “Hy het maar geduldig al ons nonsens verduur, rustig sy gang gegaan, seker maar net sy kop geskud en soms daar op die verste hoek van die speelgrond gaan blare vee of die sypaadjie buite die heining gaan netjies maak.”
Sy het hom ook bedank vir honderde blokke sjokolade wat hy altyd, ná sy aankope van die dorp af gebring het. Sy vertel dat dit haar al baie gehelp het om vriendelik en geduldig onder alle omstandighede te bly.
“Elliot, ons gaan jou as mens en staatmaker baie mis, maar ons gun jou om uit te tree. Ons eer jou vir die mens wat jy is en wens jou ‘n heerlike aftrede toe.”

