GalleriesLocal newsNewsNewsSchoolsSchools galleries

Groot pret met SAVF Kleutervriend se reis om die wêreld

Sommige van die baie jong kindertjies het snotneus en grootmond gehuil terwyl die ander duidelik die kollig geniet het. Die ouer klassies het gewys dat selfvertroue met die ouderdom kom en het behoorlik uitgehaal en gewys.

Soos elke ander jaar was dit voorwaar ‘n fees en voorreg om SAVF Kleutervriend se jaarlikse konsert by te woon. Die konsert word altyd vroeg op ‘n Saterdagoggend gehou. Die kinders is vars en uitgerus en dit is nooit ‘n lang uitgerekte affêre nie, dus word niemand se naweek omver gegooi nie.

Reeds om 10:00 was die saal by Laerskool Barberton só stampvol dat meer stoele ingedra moes word en van die ouer kinders voor op die vloer moes stelling inneem. Beslis ‘n goeie teken want dit wys dat sover dit betrokkenheid en belangstelling in die kleuters van SAVF Kleutervriend aanbetref, dit beslis nie tekort skiet nie.

Hoof van die skool, Liana Nieuwenhuis het ‘n kort toespraak gelewer waarin sy almal betrokke bedank het en veral haar personeel.
“Ons moet onthou dat die kindertjies maar klein is en baie van hulle gaan huilerig wees,” het sy gesê en die ouers uitgenooi om welkom te voel om die kleingoed op die verhoog te kom haal indien hulle wil. Sy het ook gesê as dit haar tranerig maak om daar voor te staan, hoeveel te meer nie die kindertjies nie. Liana het met nadruk gesê dat dit waarlik ‘n voorreg is vir die personeel van die skool om na die kleuters om te sien en het almal ‘n geseënde Kersseisoen toegewens.

Die opening en gebed is behartig deur Celia Joubert en die gedig wat sy voorgelees het, “Just For Today”, wat gaan oor tyd saam met jou kind spandeer omdat tyd so kosbaar is en hulle so vinnig groot word, het menig oë vol trane gehad.

Die konsert was getiteld Around the World en het gehandel oor die herinneringe van twee bejaarde vriendinne, Margaret (Angie Steeles) en Antjie (Xandri Coetzee). Tydens hul besoek aan ‘n koffiekroeg waar hul deur ‘n oulike jong kelnerin (Lyla Nieuwenhuis) bedien word, bring hulle die foto-albums te voorskyn wat herrineringe oproep van die vele lande waar hulle gereis het in hul jeug.

Met elke herinnering, het die kleuters op die verhoog die land deur middel van musiek en dans uitgebeeld. Amazone (In the Jungle); Hawaii (Hawaiian rollercoaster ride); Ierland (Galway Girl); Spanje (Macarena); Texas (Hillbilly rock) en Afrika (Waka Waka) was almal van die lande wat besoek is. Sommige van die baie jong kindertjies het snotneus en grootmond gehuil terwyl die ander duidelik die kollig geniet het. Die ouer klassies het gewys dat selfvertroue met die ouderdom kom en het behoorlik uitgehaal en gewys – in so ‘n mate dat die manne wat hul ding gedoen het op die note van Surf’in USA nie genoeg kon kry van hul spiere vertoon voor die gehoor nie en die Hawaiise meisies heupswaaiend van die verhoog af is.

Met die laaste sluk van hul koffie besluit die twee vriendinne hulle gaan vir oulaas ‘n reis aanpak na waar die pad hul ookal neem. Terwyl die kleingoed almal teruggestap het op die verhoog het die twee tannies hul kierries eenkant gegooi en heup geswaai saam met die res van die skool op maat van “I got a feeling”.
Welgedaan SAVF Kleutervriend!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button