Ontdek herkoms van plekname van Onderberg
Malalane het sy naam te danke aan die Laeveldse ilalapalm wat nog op sekere plekke langs die krokodilrivier voorkom
MALALANE – In die bundel oor die Laeveld, Die Transvaalse Laeveld; Kamee van ‘n Kontrei wat in 1975 deur die skrywer Chris Barnard saamgestel is, vind ‘n mens ‘n mooi lys oor die oorsprong van plekname uit die streek. Talle daarvan is plekname in die Onderberg en dit is hulle wat ons hier herhaal.
Natuurlik weet ‘n mens vandag baie meer en sal ons graag in die toekoms op hierdie onderwerp wou uitbrei, maar ons volstaan nou met wat in die boek staan.
Lesers is ook baie welkom om hulle kennis met ons te deel en meer inligting oor die plekke en plekname van die Onderberg aan te stuur vir publikasie na history@destinationsmp.co.za.
Hectorspruit is na ‘n hond vernoem. Een van die landmeters wat gemoeid was met opmeting vir die spoorlyn Komatipoort toe, Servaas de Kock, het ‘n hond met die naam Hector gehad.
Hoe die hond aan sy einde gekom het, is nie duidelik nie, maar die dier is by ‘n spruitjie tussen Komatipoort en Malalane begrawe en die spruitjie het Hectorspruit geword.
Toe die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatskappij (NZASM) in Oktober 1891 daar ‘n stasie aanlê, het dit die spruit se naam gekry. Dit was in Hectorspruit waar die Boeremagte in September 1900 van president Kruger afskeid geneem het op sy laaste reis na Lourenco Marques.
Kaapmuiden, een van die grootste stasies tussen Nelspruit en Komatipoort, is geleë naby die plek waar die Kaaprivier in die Krokodilrivier uitmond – “muiden” synde die Nederlands vir monding.
Die Kaaprivier is op sy beurt weer ‘n samevloeiing van die Noord- en Suid-Kaap en die Queensrivier (vernoem na die Swazi-koningin Mojojo wat naby die rivier se oorsprong gewoon het). Die stasie het in Maart 1892 sy naam gekry en vyf jaar later is ‘n takspoorlyn van Kaapmuiden af Barberton toe aangelê.
Komatipoort is in 1883 aangelê en sowat ‘n kilometer van die poort in die Lebomboberge waar die Komatirivier deurbreek na Mosambiek geleë. Die Komatirivier was sedert die vroegste tye bekend onder ‘n hele aantal verbandhoudende Bantoename, onder meer Inkomati, Umkomagazi, Manice, Manhissa en Manissa. In die stadium is daar selfs na die rivier verwys as King George River. Op 22 Maart 1838 skryf Louis Trichardt in sy dagboek: “Ben wij getrokken tot aan de rivier Comati”. Die Swazi-woord vir ‘n bees, inkomo, hou waarskynlik verband met die naam. Inkomati beteken “koei”, terwyl Umkomanzi vertaal kan word as “beeswater”.
Lebombo is die grenspos tussen Transvaal en Mosambiek en lê in die bekende Lebombobergreeks wat van Swaziland af noord loop en Transvaal se oosgrens vorm. Die Zoeloe-woord “ubombo” beteken “‘n lang reeks berge” en onder die Zoeloes staan die reeks bekend as Lubombo. Die prefiks le- is die Sotho-vorm van lu-. Vandaar Lebombo. Malalane het sy naam te danke aan die Laeveldse ilalapalm (Hyphaene natalensis) wat nog op sekere plekke langs die Krokodilrivier voorkom. Omdat die boom se stam vroeër dikwels deur die Bantoes gemelk is vir die maak van palmbier, is die ilala vandag redelik skaars.
Op ‘n sekere plek langs die Krokodilrivier was ‘n voetpad deur die stroom en hier het heelwat ilalas gegroei. Onder die Swazis het die drif bekend geword as Emalaleni, wat beteken “by die ilalapalms”. Later het dit ‘n plaasnaam geword en uiteindelik ook die spoorweghalte se naam, hoewel die spelling mettertyd verander het van Malaleni na Malalane.
Tenbosch is ‘n klein stasietjie op ‘n sylyn van die Oosterspoor en lê net ‘n paar kilometer wes van Komatipoort. Dit is met die bou van die Oosterspoor deur die NZASM, vernoem na die koninklike huis van Nederland, Het Huis Ten Bosch.




