
MBOMBELA – Hoërskool Bergvlam se matrieks van verlede jaar het ‘n 100-persentslaagsyfer behaal en
148 onderskeidings ingepalm.
Die skool is baie trots op hierdie merkwaardige prestasie omdat dit in 2014 ‘n enkele druipeling gehad het. Daar is ook ‘n 100-persentslaagsyfer behaal in 17 van die 18 vakke wat die skool aanbied.
Verskeie leerlinge met wie Laevelder Woensdag gesels het, het aangedui dat hulle ietwat beter gevaar het as wat hulle verwag het. Ander het onderskeidings rakelings gemis, en natuurlik was ‘n paar leerders bloot verlig om te kon slaag.
“Nou het jy matriek!” het die liefdevolle onderwyspersoneel wat die (voormalige) leerders se laaste skoolrapporte uitgedeel het, een bekommerde knaap opgewonde laat weet.
- Besoek die skool se webtuiste.
Van die toppresteerders is deur hulle baie trotse ouers vergesel. Njabuliso Ngomane se ma, Treasure Ngomane het trots vertel watter vreugde haar derde en jongste haar verskaf.
Njabuliso het ‘n sewende onderskeiding met slegs een persentasiepunt gemis en beplan om dit te laat hermerk.
Toe Sihle Zwane se ma, Phumzile Zwane sien sy het onderskeidings in vyf van haar vakke behaal, het sy haar verlig omhels.
Skoolhoof me. Annemarié Kleynhans sê Hoërskool Bergvlam is met reg buitengewoon trots op die 2015-matriekgroep.
- Lees meer van Hoërskool Bergvlam hier. Be calm and speak Afrikaans at Bergvlam
“Nie alleen het die skool ‘n 100-persent-slaagsyfer behaal nie, maar is ook tweede in Mpumalanga.
“As in ag geneem word dat ons inderwaarheid met die ander dubbelmedium-multikulturele skole in Mpumalanga meeding, dan dra ons die kroon van hierdie groep skole.
“Hoërskool Bergvlam stuur 187 jongmense die lewe in wat ons land se reënboognasie weerspieël, opgewasse vir die grootmenswêreld en gereed vir elke uitdaging.”
Die matrikulante met vyf en meer onderskeidings het groot toekomsplanne.

Monique Lewis het agt nderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 93 persent. Sy sê sy het voor die eksamen ‘n bietjie gestres oor wiskunde en fisiese wetenskap, maar hard gewerk.
Sy voeg by dat sy nêrens keuring kon kry om medies te studeer nie. Nou gaan sy gedragskinetika by die Universiteit van Pretoria studeer.
“Dit is navorsing oor mense se gedrag en hoe hulle optree as gevolg van hul genetika.”
Sy het op skool aan bykans alle moontlike buitemuurse aktiwiteite deelgeneem, maar sê sy beplan om in 2016 op haar studies te fokus.

Gyula Kasa het agt onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 91 persent. Hy beplan om hom as geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam en begin vanjaar aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Liza Scherman het sewe onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 88,4 persent. Sy beplan om vanjaar onderwys deur Unisa te studeer.

Njabuliso Ngomane het ses onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 87,3 persent. Sy gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Shandrie van Zweel het vyf onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 84,9 persent. Sy is dol oor lees en beplan om vanjaar tale en sielkunde by die Universiteit van Pretoria te studeer.

Tristan Fritz het vyf onderskeidings behaal met ‘n gemid-deld van 83,6 persent. Hy beplan om as ‘n geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer.

Hanno Bijzet het vyf onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 82,6 persent. Hy beplan om ‘n chemiese ingenieur te word wat op hernubare energie fokus.

Sihle Zwane het vyf onderskeidings behaal met ‘n gemiddeld van 80,7 persent. Sy beplan om vanjaar arbeidsterapie aan die Universiteit van die Wes-Kaap te studeer.
- Sien nog foto’s van die matriekgroep 2015 hier: Bergvlam se matrieks jubel oor 2015 uitslae.
