Opkomende swem-ster deel water met Chad
Nee jong, hy het so op sy eie swem gekonsentreer, daar was nie nog tyd vir foto's nie
Dit is nie almal wat die geleentheid kry om tydens ‘n gala in dieselfde water as Chad le Clos te duik nie. Komatipoort Swemklub se jong opkomende ster, Mel Stronkhorst is genooi om Saterdag en Sondag 9 en 10 Januarie aan die Grand Prix-gala in Mbombela deel te neem. Die geleentheid word op verskeie plekke in die land aangebied om talentvolle swemmers geleentheid te bied om teen mekaar mee te ding.
Stronkhorst het tot die finaal in die 50m-borsslag deurgedring en ‘n bronsmedalje in ‘n tyd van 30,12sek verower. Sondag het hy die 50m-bors-, rug- en kruipslag geswem en na die finaal in rugslag deurgedring, waarin hy ‘n vyfde plek in 28,50sek afgelê het. Hy het sy persoonlike beste tyd in vryslag aangeteken en ‘n sesde plek in 24,90sek losgeswem.
Op ‘n vraag aan sy ma of hy nie dalk ‘n foto saam met Le Clos laat eem het nie, was haar antwoord: “Nee jong, hy het so op sy eie swem gekonsentreer, daar was nie nog tyd vir foto’s nie.” Dit is presies wat die jong man doen. Soggens sewe-uur klok hy al by sy werk in Pretoria in, en saans oefen hy toegewyd vir ure in die swembad. Komatipoort is trots op hom en hou duim vas dat iemand, elders sy talent sal raaksien en ‘n borgskap aanbied.
Le Clos en sy ewe-bekende afrigter, Miles Brown was ‘n groot inspirasie vir die deelnemers. Suid-Afrika se topswemmers, wat ook by internasionale galas gesien word, het deelgeneem. Daar het selfs ‘n swemmer van Egipte sy slag kom wys. Net vier van Mpumalanga het geswem. Le Clos het ‘n Olimpiese kwalifiserende tyd in die 100m-vlinderslag behaal en volgens Komati se afrigters was dit ‘n belewenis om dit te kon aanskou. “Dit was ‘n baie goeie ervaring vir almal en dit was lekker om te sien hoe hierdie professionele swemmers teen mekaar meeding,” het Kate Kuhn gesê. Van die jong swemmertjies wat die gala net vir die ondervinding bygewoon het, Sophia Clarke en haar maatjies Joha en Dorette Smit, het ook die voorreg gehad om saam met hulle held afgeneem te word.
