Local newsNewsNewsSchools

Matriekklas slaak ‘n sug van verligting oor uitslae

Komatipoort Akademie het 'n slaagsyfer van 95 persent behaal en almal het universiteitsvrystelling gekry

KOMATIPOORT – Die matriekklas van 2015 kan nou weer asem haal nadat die uitslae Woensdag, 3 Januarie bekendgemaak is.

Sommige van die leerders is al ingeburger in hul nuwe werk en het heelwat meer hare en baard as verlede jaar op die skoolbanke. Ander wag nog geduldig vir ‘n opening êrens, terwyl ‘n paar alreeds aangemeld het vir verdere studies.

Komatipoort Akademie het ‘n slaagsyfer van 95 persent behaal en almal het universiteitsvrystelling gekry. Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga was nie teleurgesteld met die laer matriekslaagsyfer nie, aangesien sy dit verwag het. Sy glo dat die slaagsyfer oor die volgende vier jaar sal stabiliseer.

Tydens ‘n geleentheid waar die toppresteerders in die land vereer is, het sy aangekondig dat sy ‘n nuwe program by Ivory Park Sekondêre skool naamlik “Tweede Kans”, van stapel wou stuur. Die doel daarvan sou wees om kandidate te bemoedig om te herregistreer.

Die slaagsyfer in 2013 was 78,2 persent en dié van 2015 is vyf persentasie-punte laer as die vorige jaar. Motsheksa het gesê dat een van die sleutelfaktore wat tot die laer slaagsyfer aanleiding gegee het, die department se besluit is om leerders wat ‘n graad meer as twee maal gedruip het, deur te sit.

Sowat 43 000 druipelinge wat na matriek deurgesit is, kon nie die paal haal nie. Sonder hul sou die slaagsyfer volgens haar 74 persent gewees het.

Die departement se reël is dat geen kind ‘n graad meer as twee keer mag herhaal nie. Provinsiale onderwysdepartemente het verlede jaar 85 857 leerders in intensiewe matriek-studiekampe geplaas, remediërende klasse aangebied en mentors in vakke voorsien.

Sy het gesê dat hul meer sukses gehad het as wat hul gehoop het. “Daar is kinders wat gr. 10, 11 en 12 gedruip het en die kans dat hulle in elk geval sal uitval en weghardloop, is daar. So, die beste ding is om hul ‘n tweede kans te gee.

“‘n Ander belangrike faktor was dat ons die kognitiewe vereistes op die vraestelle verhoog het, daarom het ons ondersteuning verskaf. Die hele ding is om regtig die kwaliteit van die vraestelle te verbeter.

Wanneer meer leerders skryf, is daar meer ondersteuning nodig,” het sy gesê. “Ons het nodig om die pyplyn skoon te maak wat gevorm word deur

gr. 10- en 11-leerders wat vassit. Ons gaan ‘n professionele stroom vorm sodat leerders vanaf gr. 9 wat nie akademies georiënteer is nie, nie in die pyp vassit nie en slegs fokus op matrieks wat akademies aangelê is. Totdat ons daardie pyplyn opgeklaar het, sal ons nie dramatiese verbetering sien nie,” het sy gesê.

Die slaagsyfers in die provinsies is:

1. Wes-Kaap 84,7 persent

2. Gauteng: 84,2 persent

3. Vrystaat: 81,6 persent

4. Noordwes: 81,5 persent

5. Mpumalanga: 78,6 persent

6. Noord-Kaap: 69,4 persent

7. Limpopo: 65,9 persent

8. KwaZulu-Natal: 60,7 persent

9. Oos-Kaap: 56,8 persent.

Vir diegene wat hierdie keer nie die paal gehaal het nie en moedeloos voel, is daar verskeie middele beskikbaar wat kinders kan ondersteun:

1. Maatskaplike werkers is 24 uur by die volgende helplyn aan diens:

0800-428-428

2. Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep en selfmoord-krisislyn:

0800-567-567 of SMS 31393 vanaf 08:00 tot 20:00, sewe dae per week.

3. Kinderlyn – tolvry 08000-555-55

4. LifeLine SA se nasionale beradingslyn: 0861-322-322

5. LoveLife SA – 0800-121-900.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button