Inwoners is nou keelvol vir toestand van hulle straat
Die straat is sowat twee jaar gelede geteer, maar sedertdien het die toestand daarvan met rasse skrede agteruitgegaan
OHRIGSTAD – Inwoners van Mimosastraat is keelvol vir die swak toestand van die pad en het Maandag bymekaargekom om hul misnoë oor die manier waarop die distriksmunisipaliteit dit herstel, te bespreek.
Die straat is sowat twee jaar gelede geteer, maar sedertdien het die toestand daarvan met rasse skrede agteruitgegaan.
“Ons rapporteer gedurig waterpype wat onder die teerpad lek aan die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit. Kontrakteurs word dan uitgestuur om die lekkasies te herstel, maar die manier waarop dit herstel en net so gelaat word, is iets vreesliks. Die teer word stukkend gekap en uitgegrawe om by die lekkasies uit te kom. Ná die pype herstel is, word die gate nie weer behoorlik gevul nie,” vertel Hendrina du Plessis.
“Daar is selfs ‘n gedeelte van die pad waar daar ‘n week gelede ‘n pyp herstel is, wat net met rooi lint afgekamp en so gelos is. Ons moet nou ‘n alternatiewe roete gebruik as ons dorp toe wil ry,” voeg Louis Kruger by.
Matthys Pieterse vertel dat hy al ‘n paar keer gesien het hoe skade aan motors aangerig word as gevolg van die gate. “Bestuurders wat nie bewus is van die oop gate en klippe nie, sal sommer deur dit ry. Daar is geen waarskuwingtekens nie. Ek het al talle kere gesien hoe motoriste bande moes omruil en selfs al gesien hoe die kattebak van ‘n motor stukkend geslaan is deur een van die klippe in die pad.”
Die inwoners vertel dat hulle verstaan dat die lekkasies herstel moet word, maar kan nie die nalatigheid van die kontrakteurs verstaan nie. Hulle voel dat as die herstelwerk die eerste keer behoorlik gedoen was, sou die pype nie so baie gelek of gebars het nie.
“Dit is die plaaslike munisipaliteit se verantwoordelikheid om die paaie in stand te hou, maar ons was nie bewus van hierdie situasie nie. Daar is ‘n areabestuurder in Ohrigstad wat die klagtes aan ons tegniese department moet rapporteer sodat ons die paaie kan herstel. Inwoners moet in die vervolg hierdie probleme aanmeld sodat ons so spoedig as moontlik kan begin om dit te herstel,” sê Thabiso Mokoena, Groter Tubatse Munisipaliteit se woordvoerder.
Willy Mosoma, Sekhukhune-distriksmunisipaliteit se woordvoerder, het geen terugvoering oor die situasie gegee nie ten spyte van talle oproepe wat aan hom gemaak is.

