Komatipoort Akademie is slaggereed vir nuwe jaar
Ons is in 'n nuwe jaar, met nuwe geleenthede. Vir sommige kan dit onbekend en vreesaanjaend wees, maar daar is geen rede daarvoor nie. God is met ons, wat ook al die nuwe jaar mag inhou
KOMATIPOORT – Mnr. Ormond Lombard het Komatipoort Akademie se leerders en personeel, asook ouers van gr. 1-leerders wat die skoolopening bygewoon het, met die bemoedigende woorde gegroet dat die Here hul te alle tye beskerm. “Ons is in ‘n nuwe jaar, met nuwe geleenthede. Vir sommige kan dit onbekend en vreesaanjaend wees, maar daar is geen rede daarvoor nie. God is met ons, wat ook al die nuwe jaar mag inhou.”
Die hoof het die nuwe leerders, ouers en nuwe personeellede verwelkom en ouers uitgenooi om met die skool te kom gesels, wanneer hul goeie dinge sowel as slegte dinge oor Akademie hoor. Hy het beklemtoon dat die ouer die primêre opvoeder van die kind bly en het hulle aangemoedig om leerders met huiswerk te ondersteun en tuisstudie te help en om by die huis ‘n balans tussen sport, kultuur en akademie te kweek.
Ouers is ook welkom om betrokke te raak by sportafrigting.
“Dit is nie die personeel se skool nie. Ons het die ouers se insette nodig. Baie dankie aan die beheerliggaam vir hulle harde werk, maar hulle kan dit nie alleen doen nie, ons het die ouers nodig.”
Hy het ook uitgelig dat prestasie nie net van die kinders afhang nie. “Ouers moet die kind se talente raaksien en dit help ontwikkel. ‘n Kind se selfbeeld is baie belangrik. Bou hulle op en help om ‘n leerkultuur by die huis te skep.”
Die skool het ‘n paar nuwe leerkragte by gekry wat opgewonde is om deel van die skool se suksesspan te wees.
• Me. Lisma Janse van Rensburg, ‘n nagraadse student, het ekstra versterking gebring deur vir die eerste paar maande met wiskunde geletterdheid en tegniese tekene te help.
• Me. Neliza van Niekerk, die nuwe
gr. 2-juffrou is in die plek van me. Retha Smit, wat na 20 jaar diens by die skool uitgetree het. Sy is ‘n inwoner van Komatipoort, het by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer en is lief vir sport.
Ná skool het sy by Pneumatix in die Kaap ‘n draai gaan maak, waar sy in ‘n kranige trom- en baskitaarspeler ontpop het. Terug in Komati het sy deeltyds begin studeer terwyl sy by Toddle Tots gewerk het. Sy het egter besluit om voltyds by Pukke in te skryf en het haar studies in 2015 voltooi.
• Me. Kyla Joubert, oorspronklik van Krugersdorp, het haar matriek by Akademie geskryf en daarna by Tuks studeer. Sy is die nuwe Engelse onderwyser vir gr. 8 en 9 en gee ook Afrikaans vir die gr. 9-leerders.
• Me. Tasja Meyer, afkomstig van Delmas, is verantwoordelik vir die lewensoriënteringsklasse vir gr. 4 tot 8 en besigheidstudie vir gr. 10- tot 12-leerders.
• Mnr. Danie Erasmus is die nuwe terreinbestuurder en het reeds hard gewerk voordat die skool se deure vir 2016 geopen het.
• In die administratiewe blok is daar ook twee nuwe gesigte. Me. Roelien Horn is verantwoordelik vir onder andere bemarking, administrasie en invorderings, terwyl me. Anciska Mills as hoof van finansies aangestel is.
Die saalopening is afgesluit met leerders wat eers die “Onse Vader” en daarna met trots die skoollied gesing het.

