Skool se nuwelinge het vet pret
Loop jy gedurende pouse op Akademie se speelgrond, sien jy 'n bedrywigheid van geel bewegende gr. 8-leerders besig om een of ander interessante opdrag uit te voer

KOMATIPOORT – Loop jy gedurende pouse op Akademie se speelgrond, sien jy ‘n bedrywigheid van geel bewegende gr. 8-leerders besig om een of ander interessante opdrag uit te voer.
Elkeen is geklee in ‘n geborgde hemp met hulle naam en ook die matriekleerling wat ‘n ogie oor hulle moet hou, se naam daarop. Ja, dit is oriënteringstyd.
Die skiewies, wat bekend is as “Klippies” het elkeen ‘n klein stukkie rots waarna hulle in dié tyd moet omsien. Maandae moet die klippie baie aandag kry, Dinsdae is dit bederfdag en Woensdae word daar vir die volgende vier weke volgens ‘n sekere tema aangetrek.
Familie is belangrik en in week een het hulle soos ouma en oupa aangetrek. In week twee moet hulle soos ma en pa lyk. In week drie kan die fopspene en babaklere nadergetrek word en in week vier gaan elkeen ‘n uitrusting ontwerp en swart sakke dra om ook herwinning uit te beeld.
Donderdae word daar liedjies gesing en word klem gelê op spangees, terwyl hul Vrydae nie hoef hare te kam nie, want dit is “bad hair day”.
Die kinders geniet al die pret en sodoende word daar ‘n band van eenheid gevorm terwyl almal mekaar beter leer ken.
