Nuwe Robbies leer dat dit lekker is om te gee
Daar is op 20 Januarie in tuine gewerskaf, honde gevryf en drukkies aan gemeenskapslede uitgedeel toe ‘n groep graad agts, prefekte en voogpersoneel van Hoërskool Rob Ferreira die dorp ingevaar het.
Dit is ‘n jaarlikse instelling dat die nuwelinge kort na hul aankoms by die skool die Robbie-waardes van opregte omgee en respek vir die medemens aanleer sodat hulle ‘n verskil in die gemeenskap kan maak. Dit word gedoen deur ‘n projek waar die nuwe Robbies, tesame met hul prefek-mentors en ‘n paar personeellede, gemeenskapslede op een of ander manier help.
Die gr. 8’s is hierdie jaar in drie groepe ingedeel wat elk ‘n spesifieke taak gehad het. Een groep het afgestap na Rustig Ouetehuis en het, met swartsakke in die hand, die tuin om die woonareas mooi skoongemaak. Prefekte en nuwelinge het aan deure gaan klop en handgemaakte kaartjies met mooi wense uitgedeel. Dit was vir hulle ‘n groot voorreg om ‘n glimlag op die ou mense se gesigte te los!
Die tweede groep het ‘n entjie verder gestap om die Witrivier DBV te gaan besoek. Die leerlinge is hartlik ontvang en het meer van die organisasie se belangrike werk geleer. Elke kat en hond is oorval met liefde, aandag en drukkies van kinders en onderwysers en daarna het die Robbies aan die werk gespring in die groentetuin. Daar is sakke vol onkruid uitgehaal en die tuin se grond is nou weer reg vir nuwe plante.
Die groepie moes toe, met ‘n swaar hart, die diere agterlaat en hoop dat elkeen ‘n liefdevolle en veilige huis sal kry.
Die derde groep Robbies is in hulle oranje Robbiedrag die dorp in en het by besighede ingeloer om drukkies uit te deel en selfgemaakte kaartjies van bemoediging uit te deel.
“Hierdie instansies het nie altyd genoeg hande arbeid om by alles uit te kom nie en dit was ‘n voorreg om te kon help,” vertel Somari Basson. “Ons wil die instansies opreg bedank dat ons daar kon gaan kuier – elke Robbie, of dit ‘n gr. 8-leerling is of ‘n gr. 12-prefek was – het beslis hierby gebaat en ‘n groot lewensles huis toe gevat!”
‘n Paar dae later het leerlinge van Hoërskool Rob Ferreira, Laerskool Witrivier en ander gemeenskapslede kragte saamgespan om water in te samel as deel van #ProjectWaterDrop.
‘n Vragmotor, geborg deur Wayne Naude van WF Vervoer, het die vrag water na Mbombela vervoer. Dit is daarna deur ‘n netwerk van Jacaranda FM (die dryfkrag agter die projek) na die Noordwesprovinsie vervoer en aan inwoners van droogtegeteisterde gebiede geskenk.


