LHS-atlete slaggereed vir vanjaar se interhoër
Benewens Lydenburg, het Hoërskool Oosterland, Hoërskool Ermelo en Komatipoort Akademie deelgeneem.

Ter voorbereiding vir die interhoër wat volgende naweek, 20 Februarie by Hoërskool Lydenburg plaasvind, is ‘n prestige-atletiekbyeenkoms verlede Saterdag as proeflopie gehou. Benewens Lydenburg, het Hoërskool Oosterland, Hoërskool Ermelo en Komatipoort Akademie deelgeneem.
Volgens me. Charlaine Joubert, die bemarkingsbestuurder van die skool, wou hulle hiermee sien of hul plan vir die Interhoër sal werk. “Nou weet ons waar om te verbeter en het ook ‘n idee hoe die byeenkoms kan verloop.”
LHS het met 1 515 punte geseëvier. In die tweede plek was Hoërskool Ermelo, derde was Hoërskool Oosterland en vierde Komatipoort Akademie.
Tydens deelname het een van die atlete, Jolene Erasmus ‘n blindederm-aanval gehad, maar die paramedici van Netcare 911 kon haar bystaan en het mediese hulp verleen.
“Dankie aan die mediese span vir hul ondersteuning en aan die verkeersdepartement vir die beheer van verkeer tydens die byeenkoms,” het Joubert bygevoeg.







