Laerskool se sterre mik hoog
Die eerste stap is om aan die skool se sub-kringbyeenkoms deel te neem.
Atlete van elke klein skool in Mpumalanga kry die geleentheid om te kwalifiseer vir die Mpumalanga Kampioenskappe waarna hulle aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe kan deelneem.
Die eerste stap is om aan die skool se sub-kringbyeenkoms deel te neem. Laerskool Malelane se atlete kompeteer by die sub-kringbyeenkoms teen Riverview, Beacon College en Mhlati Primary. Drie atlete van elke skool neem deel en die eerste twee plekke in elke item, gaan deur na die volgende ronde.
Daarna het die atlete in die Malelane-groep in die Kringbyeenkoms meegeding teen Jeppes Reef, KaMhlushwa, Schoemansdal en Buffelspruit. Hierdie byeenkoms het op 2 Februarie plaasgevind.
Van daar vorder hulle na die Sub-distrikbyeenkoms waar Malelane teen Nkomazi-Wes, Lubombo, Khulangwane en Nkomazi-Oos deelneem. Hierdie byeenkoms het op 9 Februarie by Laerskool Malelane plaasgevind. Die volgende Lanie-atlete het op hierdie byeenkoms na die volgende ronde deurgedring: Teagan Terblans, Ayomide Osho, Hope Madonsela, Tanaka Muneri, Dimakatso Malele, Zonke Nkosi, Nqoblie Mahlobo, Sinokuhle Mazibuko, Reghard Greyling, Adriaan Hamman, Cilliers van Heerden, Okuhle Ndinisa, Phila Sibiya, Hopewell Khoza, Khaya Sengwayo, Terence Terblans en Olwethu Zwane.
Dié atlete gaan nou die Ehlanzeni-distrik verteenwoordig by die Distriksbyeenkoms wat volgende week plaasvind, waar Ehlanzeni teen White Hazy en Mbombela meeding. Die eerste vier atlete van elke item gaan na die Mpumalanga-kampioenskappe en kan daar kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem.
Laerskool Malelane neem ook deel aan vriendskaplike byeenkomste. Dit sluit in die interhuis, ‘n paar vriendskaplike byeenkomste asook die Interlaer, wat op 19 Februarie 2016 deur Laerskool Malelane aangebied word. Die Lanies is nou al vir die afgelope 15 jaar die Panorama Interlaer gewen en hoop om dit hierdie jaar ‘n 16de keer reg te kry.
