
Hoërskool Bergvlam het verlede week gewys hoe geliefd hulle hoof, me. Annemarie Kleynhans, werklik is.
Nie net is sy op 3 Februarie oorval met boodskappe, kaartjies, ballonne en blomme nie, maar sy is bederf deur ‘n ieder en ‘n elk wat haar ken.
Sy het dié spesiale dag gevier met ontbyt saam met die bestuurskomitee en ‘n erewag deur die hele skool. Verder het die skool ‘n boom en bankie aan haar oorhandig.
“Oom Boom” en “Grootboom” is twee pragtige, reuse-papierbasdoringbome en is baie bekende bakens in die middel van die skoolterrein. Hulle is die stil getuies van jare se aktiwiteite onder hulle takke en Kleynhans se nuwe boom sal
nou ook haar legende voortdra.
Sy is ook bederf met ‘n helikopterrit oor die Barberton-vallei wat op die skool se rugbyveld geëndig het, waar al die leerders vir haar erewag reggestaan het.
Die wonderlike oggend is afgesluit saam met die personeel van Hoërskool Bergvlam tydens ‘n high tea.
Hoërskool Bergvlam wens haar ‘n ongelooflik geseënde lewensjaar toe.
- Lees meer: Bergvlam se personeel brei uit in 2016
