Man in aanhouding na bestialiteitsklag
"Wat ek werklik voel die straf vir hierdie oortreders moet wees, sal ek nie kan kwytraak nie,” sê ‘n briesende Hoffman.
Barberton DBV se gebied strek wyd. Vrydagoggend het Marcelle Hoffman, voorsitter van die tak, twee bokooie en twee lammers op Schoemansdal gaan haal. Dit nadat ‘n 20-jarige man die vorige dag in hegtenis geneem is op ‘n aanklag van bestialiteit. Die gearresteerde is steeds in aanhouding.
“Die eienaar van die diere het die saak aanhangig gemaak nadat mense in die gemeenskap die man op heterdaad betrap het,” sê Hoffman.
Sy het aanvanklik gedink dit is net die een ooi, maar met haar aankoms het sy vasgestel dat ‘n ander ooi, ‘n jonger een, ook ‘n slagoffer was. “Die een ooi, aan wie twee lammers nog suip, is boonop hoog dragtig en die kleiner, jonger ooi vermoedelik ook,” vertel sy.
Hoffman sê die lede van die SAPD se ondersoekspan van Schoemansdal was ongelooflik hulpvaardig en het nie geskroom om van hulle kant af meer te wete te kom oor die wetgewing rondom bestialiteit nie aangesien dit nie iets is waarmee hulle op ‘n gereelde basis te doen kry nie.
Die ooie, wat tans in veilige sorg by die Barbertonse dierekliniek is, is onmiddellik ondersoek. “Die prosedure, asook die forensiese seksuele aanrandingsondersoek is presies dieselfde vir mens en dier. Dit behels ‘n rektale, buitevaginale en binnevaginale deppertoets, waarna dit weggestuur word na die laboratorium in Pretoria. Tans wag ons op die resultate en gaan die DBV hulle stem by dié van die eienaar voeg ter versterking van die klag en gaan Barberton DBV die oortreder aankla kragtens die strafregwet: Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede nr. 32 van 2007, asook in terme van die dierebeskermingswet 71 van 1962,”” sê Hoffman.
Sy vra dat mense, wanneer hulle bewus word van sulke misdrywe, sonder om te skroom met die DBV en die SAPD in aanraking moet kom.
“Na ‘n maksimum van sewe dae is die DNS-toetse nie meer akkuraat nie,” sê sy.
Hoffman sê dit is werklik kommerwekkend om te sien dat, alhoewel die gemeenskap die eienaar ingelig het, hulle nie die werklike omvang van hierdie misdryf besef het tot na sy met hulle gepraat het nie.
“Die probleem is dat baie van hierdie mense sielsiek pleit. Dit tel natuurlik in hulle guns – soos in ‘n vorige geval, ‘n jaar of wat gelede, waar hoenders betrokke was, en die oortreder op borgtog van ‘n skamele R500 vrygelaat is. Wat is R500 en wat keer hom om dit weer te doen? En hoe lank voor hy aanbeweeg om kinders te molesteer? So eskaleer dit en op die ou end sit jy met ‘n reeksverkragter in jou midde! Wat ek werklik voel die straf vir hierdie oortreders moet wees, sal ek nie kan kwytraak nie,” sê ‘n briesende Hoffman.
Tans is hulle op soek na ‘n goeie huis vir die twee ooie en die lammertjies. Sy noem dat dit voorwaar ‘n baie goeie huis sal moet wees met liefdevolle eienaars, want sy sien nie haar pad oop om hierdie pragtige, maar reeds getraumatiseerde diere aan enigeen te oorhandig nie. “Die rammetjie gaan ons kastreer en al die diere word reeds behandel vir vratte en wurms sodat hulle gesond en sterk met hulle lewens kan aangaan,” sê sy.
Sy vra dat mense asseblief hulle ore en oë moet oophou en nie moet skroom om lawaai te maak indien hulle weet daar is enige wreedheid teenoor diere nie. Hoffman kan gekontak word by 082-825-1505.



