Kom klink ‘n glasie met ‘n groen gewete
Wynliefhebbers kan uitsien na 'n hele paar groen oftewel omgewingsvriendelike wyne wat by die Mpumalanga Wynskou te proe en te koop gaan wees.
MBOMBELA – Wanneer jy op 7 en 8 April by die FNB Mpumalanga Wynskou ‘n glasie klink, doen dit met ‘n groen gewete en wees trots Suid-Afrikaans daarby. Suid-Afrika is ‘n internasionale leier wanneer dit by eko-vriendelike wynverbouing kom.
Daar is min ander lande waar die wynbedryf omgewingsbewaring so hoog op hul prioriteitslys plaas. ‘n Hele aantal van die uitstallers by die wynskou staan omgewingsvriendelike verbouings- en wynmaakpraktyke voor.
Met groen wyne is die uitgangspunt om die impak van die wynboerdery en -verbouing op die omgewing so laag as moontlik te hou. Op sulke wynplase word planne gemaak om energie en water te bespaar sowel as om eko-toerisme en gemeenskapsontwikkeling te bevorder.
Talle gonswoorde word in die wêreld van groenwyne gebruik soos organies, biodinamies en volhoubaar.
Maak dit vir jouself makliker deur te kyk watter wynplase se etikette aandui dat hulle tot die BWI oftewel inisiatief biodiversiteit in wyn behoort. Hierdie groep wynboere verbind hulself daartoe om volhoubaar ‘n groen omgewingsbaadjie aan te trek en saam met die natuur te werk om bio-etiese wyne daar te stel.
Dit sluit nie net praktyke van wingerd tot kelder in nie, maar ook om op die wynplaas se breër omgewingsimpak te let. So ‘n uitgangspunt behels onder meer werksmetodes wat koolstof-neutraal is. Dit beteken om soveel as moontlik bome (en nie net wingerde nie) aan te plant as suurstoffabrieke sowel as om kleiner trekkers te gebruik sodat die koolstoflading kleiner is. Selfs wingerduitleg word aangepas sodat minder trekkers hoef rond te beweeg. Om sulke wyne op die rakke te sit, beteken ook om wyn in liggewigglas te verpak en te sorg vir ekovriendelike kartonverpakkings waarin wyn vervoer kan word.
Geen wyne gesertifiseer as organies wyne sal by die FNB Mpumalanga Wynskou aangebied word nie. Sulke groen wyne is skaars en moet onder meer volgens organiese verbouingsmetodes gekweek word: geen gifstowwe, onkruiddoder of petrochemiese kunsmis mag in die verbouing gebruik word nie.Dis nou wingerde waarin die erdwurms hulle kant moet bring!
By die wynlandgoed Spier buite Stellenbosch hou dit lank nie by ‘n praktiese natuurbewaringsfilosofie op nie. Spier is ook ‘n Fairtrade- gesertifiseerde landgoed en pak spesiale projekte aan om die lewensgehalte van hul plaaswerkers te verbeter. So word saad onder bome opgetel en aan plaaswerkers gegee om in koeldrankhouers te plant. Sodra die plante 30-sentimeter hoog is, word die nuwelingplantjies by die boompreneurs deur die wynplaas terug- gekoop.
“Ons glo volhoubare, omgewings-ontwikkeling sluit ook die ontwikkeling van die mense-potensiaal en bewaring van diere op ons plaas in,” sê Elza Smit, handelsmerk-bestuurder van Spier.
By Eagle Encounters op die plaas word verskeie beseerde roofvoëls soos aasvoëls en uile ‘n skuiling gebied. Spier bied wynskoubesoekers een van hul voorste produkte aan naamlik ‘n Sauvignon Blanc van 2015, Creative Block 2. Die wyn het onder meer twee Goue Veritas-toekennings verwerf.

Op die wynplaas Thelema is volhoubaarheid ook veel meer as ‘n modewoord. Thelema is geleë op die Helshoogtepas duskant Stellenbosch. Een van hul maatreëls om aan die omgewing terug te gee, is om druiwepitte en -stingels, uitgehaal in die wynmaakproses, te herwin en as gekompakteerde blokke kompos in die wingerde terug te ploeg.
Op die plaas teen die berghange sien die plaasbestuur ook toegewyd toe dat alle indringerplante soos wattelbome uitgeroei word om die fynbos te bewaar. “Ons glo dat ons goeie wyne moet maak terwyl ons ook die omgewing eerste stel,” sê Michelle van Eeden, bemarkingsbestuurder van Thelema.Wynliefhebbers kan uitsien om Thelema se Sauvignon Blanc (2015) te proe.
Michelle beskryf die wyn as ‘n “goed gebalanseerde, vriendelike wyn”.
Verskeie van die uitstallers by die wynskou is deur die inisiatief biodiversiteit in wyn (BWI) gesertifiseer, wat beteken bewaring van die omgewing speel ‘n belangrike rol op hul wynplase: Blaauwklippen, Glen Carlou, Glenelly Wine Estate, Groot Constantia, Graham Beck Wyne, Jordan Wine Estate, Keermont, Ken Forrester, La Motte, Morgenster Wine Estate, Muratie, Paul Cluver, Porcupine, Raka, Simonsig, Spier, Steenberg, Sumaridge, The Chocolate Block, The Wolftrap, Thelema, Vondeling Wyne, Waterford Landgoed en Whalehaven.
