Laeveld ‘n vakansietoevlug vir George-gesin
Die onvoorwaardelike begrip van 'n vriendelike opsigter by 'n Laeveldse piekniekplek maak vir 'n George-gesin met 'n outistiese seun elke uitstappie daarheen 'n sielservaring.
MBOMBELA – ‘n Netjiese piekniekplek op die walle van die Sabierivier waar ‘n meelewende opsigter met toewyding sorg dat besoekers die natuurskoon in vrede kan geniet, is dikwels ‘n vakansietoevlug vir die Van Deventer-gesin en hul outistiese seun, Migael (9) van George. Vir hulle is die Laeveld ‘n ware toevlug.
Migael is gelukkig en tevrede as hy by die piekniekplek by Sabiepark op die walle van die rivier saam met die meelewende en rustige vader van twee en die uitspanplek se opsigter, Ongeni Masinga, ‘n paar uur kan deurbring.
So sê voormalige prokureur van George, Mariza. Sy en haar man besoek Sabiepark dikwels waar haar skoonouers, Hennie en Tokkie, ‘n vakansiehuis het. Dan is gereelde uitstappies soontoe ‘n voorvereiste.
“Ongeni is ‘n nederige man met ‘n sagte hart. Ons seun sien altyd uit om hom te sien. Hy maak altyd tyd vir hom al is hy daarop gesteld om hard te werk om die gewilde plek vir uitstappies so netjies as moontlik te hou,” meen Mariza.

Ongeni het al dikwels aan haar bevestig die onoortreflike natuurskoon aldaar “is my stukkie hemel waarvoor ek met liefde sal sorg”. Hy is ook bekend as Organ juis omdat sy ma so lief vir musiek was. Hy het as gevolg van ‘n kindertydongeluk blind in sy een oog geword; desnieteenstaande het hy homself opgelei om ‘n fotograaf te word. ‘n Besoeker aan die vakansieplek het ‘n kamera aan hom geskenk.
“Nou sien ons almal uit na sy foto’s van die gebeure rondom die Sabierivier!” Wat haar die eerste keer van Ongeni opgeval het, is sy manier om tydens elke kuierslag weer opnuut vriende met Migael te word – opsigself ‘n uitdaging. Sy outisme het vele uitdagings rondom kommunikasie soos dat hy nie-verbaal en aandagafleibaar is.
“Ek dink dis die manier wat Ongeni die wonderwerke rondom hom deel. Hulle hark saam blare en speel hul eie opgemaakte speletjies.”
As ‘n ma met ‘n kind met spesiale behoeftes loop sy en haar man, Johan, ‘n toegewyde, maar soms eensame pad. Die egpaar het Migael aangeneem toe hy 19 maande oud was en was nie bewus van die uitdagings wat op hulle pad sou kom rondom sy toestand nie.
Dit was eers op vyfjarige ouderdom dat urinetoetse wat in Frankryk gedoen is, getoon het dat Migael wel ‘n rare metaboliese defek – Phenylketonuria – het en as gevolg daarvan is hy outisties. “Die grootste uitdaging was om die diagnose te aanvaar,” sê Mariza. Vir haar en Johan het die rouproses toe begin. Hulle moes afskeid neem van drome soos om ‘n eerste skooldag met hul seun te deel.

“‘n Mens moet vrede maak dat sy mylpale van dié van ander kinders sou verskil.” Bedags staan Natasha Ranna, Migael se privaat onderwyser, Mariza by.
Sy gee graag raad vir ouers of familielede met ‘n outistiese persoon in hulle familiekring. Sy sonder alleentyd met jou eggenoot as oorlewingstegniek uit. “Trek laer met jou man.”
Die egpaar besoek drieweekliks ‘n familiesielkundige wat hulle help om werklikhede in die oë te kyk.
Dis egter hul sin vir humor sowel as die besondere unieke blik op die lewe van Migael wat dikwels tot hul redding kom. “As jy nie elke dag kan lag nie, gaan jy dit nie maak nie.”
Migael se lieflingshond, Sam die Labrador, is soos sy skaduwee.
“Outistiese kinders het begrip nodig, die soort onvoorwaardelike begrip en aanvaarding wat ons seun ook by Ongeni kry wanneer ons Sabiepark toe gaan.”
