Bekroonde orgideeplaas begin met blomgeskenk
Lourens en Jolisa Grobler dwing wêreldwyd respek af met hul Laeveldse orgidee-onderneming, Afri Orchids, en het reeds met talle toekennings weggestap.
ALKMAAR – Toe Christo en Peggy Grobler in 1975 met die geboorte van hulle seun, Lourens, ‘n orgidee as ‘n geskenk van die Nelspruit Krieketklub ontvang het, kon hulle nie droom dat die plant eendag tot hul onderneming – Afri Orchids – sou lei nie.
Lourens, ‘n vriendelike rekenmeester met ‘n besige praktyk in Mbombela, lag innemend hieroor wanneer hy deur die kweekhuise op hulle plaas in die geil en beskutte vallei naby Alkmaar stap – ‘n ware Laeveld-paradys. “‘n Geliefde stokperdjie het ‘n besigheid geword,” sê hy nadenkend.
Hy was reeds vanaf 10-jarige ouderdom besig om kweekmetodes onder die knie te kry. Die respek vir hierdie pragblomme het vinnig vermenigvuldig. “Dit is die mees veelsydige plant in die wêreld met unieke kwaliteite soos die bestuiwingsmeganisme van party van die spesies.”
Toe die plaas in die Alkmaar-omgewing in 1998 deur Christo gekoop is, is die kweekhuis wat eens in Rotherystraat gestaan het, soontoe geskuif. Toe Lourens in 2000 met Jolisa getroud is, het hulle die kweek van die seldsame plante saam begin bestuur.

Oor ‘n lang tydperk is die onderneming met toewyding uitgebrei, sodat dit nou talle kweekhuise vol orgideë, asook bromeliads beslaan. Tans is daar meer as 4 500 plante in hulle kweekhuise, om nie van die helderkleurige pragblomme in die boommikke in hul tuin te praat nie. Wat ‘n lus vir die oog!
“Oor die orgideë, veral die skaars soorte wat aan die uitsterf is maar waarvan ons wel plantmateriaal het, voel ek ‘n sin van rentmeesterskap. Ek hou daarvan om te dink ons het ‘n groter doel met die plante aan ons toevertrou, wel dié van oppas, beskerm en bewaar,” sê Jolisa, ook ‘n rekenmeester en ma van twee kinders, Miré en Elro, wat getuisskool word. Haar dag begin reeds vroeg wanneer sy die internetbestellings aflaai, kweekhuise deurstap en plante rondskuif sodat hulle die beste van die omstandighede kan maak. Dit neem die meeste orgideëplante vyf tot ses jaar om te blom.
Christo en Peggy woon ook op die plaas. Hy stap gemaklik saam met Lourens en Jolisa deur die kweekhuise, breek hier en daar ‘n bruin blaar af en kyk nog steeds met waarderende verwondering na verre lande se blommekroon wat hier in die Laeveld pryk.
“My gunsteling-orgidee? Enige een wat blom!” sê die afgetrede en vriendelike ouditeur. Hy is veral trots op die feit dat Afri Orchids verlede jaar op die Wêreldskou die tweede plek losgeslaan het. “Dit verg toewyding en ‘n skouwenner is ‘n kroon op harde werk.”

Die Groblers is spesie-kwekers en voorsien nie orgideë wat reeds blom aan kettingwinkels nie, maar wel ‘n wye verskeidenheid spesies aan versamelaars. Die prys word deur vraag en aanbod bepaal. Daar is die werklike skaars spesies wat ook skouwenners is en tot kooppryse van soveel as $20 000 op die internasionale mark kan haal.
Een van die pluspunte vir Lourens is die interessante plekke waar die soeke na nuwe spesies of lieflingblomme hulle al geneem het. Plekke soos Colombië, Ecuador en Maleisië het ‘n onuitwisbare indruk op hom gelaat. Stap jy in die paradystuin vol bromeliads en broodbome, vang so ‘n plant uit die Himalajas, die lilapers Vanda coerulea, dadelik die oog.
Orgideë kan van saad gegroei word en is uitmuntend hiervoor toegerus. In een peul kan jy soms tot ‘n honderdduisend saadjies kry. Die plante kan ook van ‘n bol gegroei word. “Mbombela het nie ‘n groot versamelaarsmark nie. Liefhebbers hier soek tuinorgideë. Pretoria en Kaapstad se versamelaars is behoorlik behep met spesifieke spesies. ‘n Versamelaar sal nie rus tot hy met die plant van sy keuse kan spog nie,” glimlag Lourens.
Versamelaars is belangrik vir die voortbestaan van orgideë, meen Jolisa.
“Hulle speel ‘n belangrike rol in bewaring.” Sy en Lourens betreur veral die uitsterf van ‘n veldorgidee wat vantevore in Steiltes gegroei het, maar na ontwikkelings uitgeroei is, omdat veral die water besoedel was. Dis juis met die oog op die Laeveld-mark dat Afri-Orchids Saterdag 9 April van 08:00 tot laatmiddag hulle kweekhuise en tuin oopstel vir almal wat plante soos orgideë en bromeliads wil kom koop. Jolisa, ‘n uitstekende bakster, bak reeds vir hierdie opedag koek wat gratis saam met tee bedien gaan word. Rondom 14:30 is daar ‘n demonstrasie van hoe orgideë deel van jou tuin kan word.
Jolisa en Lourens het ook kennis soos hierdie in hulle pragboek Field Guide to the Orchids of Northern South Africa and Swaziland (R280, uitgegee deur Umdaus Press, 012-991-2988) vervat.
Hulle gee die volgende wenke vir orgideeliefhebbers:
• Moenie plante té nat maak nie. Sit eerder onder die kraan en laat water deur en oor die plant loop.
• Die beste plek in die Laeveld vir ‘n orgidee is in die mik van ‘n tuinboom wat oggendson kry.
• Plant elke drie jaar die plante oor.
Aanwysings na Afri Orchids: Ry op die N4 tot by die afdraai na links na Kwanyoni Lodge. Neem die grondpad parallel met die hoofpad en ry verby die lodge tot by die vurk in die pad. Neem linkerkant van die vurk en ry tot by die ingangshek. Neem die derde pad na regs (R3 gemerk). Skakel Jolisa by 079-492-9385.







