EnvironmentalHard newsLocal newsNewsNewsSANParks

Oorlog teen stropery kry momentum

John Hooper en John Turner het hande gevat om te sorg dat veldwagters in die renosterstropingsoorloë beter toegerus word om stropers die stryd aan te sê.

SKUKUZA – Elke wyn vertel sy eie verhaal. Dié onder die Rhino Tears-etiket vertel die storie van toewyding aan die bewaring van renosters en sorg vir ‘n bydrae tot die bekamping van stroping.

Die eerste hoofstukke van hierdie besielende verhaal begin toe John Hooper van Mount Vernon-wyne, en John Turner van die Nasionale Krugerwildtuin se Ereveldwagtersvereniging ‘n paar jaar gelede in Phalaborwa bymekaargekom het om oor die bekamping van renosterstropery te gesels.

Die twee natuurliefhebbers het dadelik aansluiting bymekaar gevind, so veel so dat Hooper besluit het om met dié vereniging van vrywilligers hande te vat.
Wyn en bewaring blyk goeie pasmaats te wees. Vroeër vanjaar kon hy ‘n belofte nakom wat hy gemaak het om R15 van elke bottel wat spesiaal vir die bekamping van renosterstropery onder die etiket Rhino Tears bemark is, aan die Ereveldwagters te skenk. Die skenking wat sedert Oktober 2014 gemaak is, het reeds meer as R750 000 beloop.

“Dis ‘n positiewe manier om ‘n bydrae tot bewaring te maak,” sê die bemarkingsbestuurder van Mount Vernon-wyne. Hooper het nog altyd ‘n besondere verbintenis met die natuur gehad en is grootgemaak met die filosofie dat om ‘n merkwaardige nalatenskap agter te laat, veel meer behels as om bloot grond en bates as erfgoed aan te gee.

“Familiewaardes is baie belangrik vir ons en een daarvan is eerlikheid. Vir die Ereveldwagters is integriteit in alles wat hulle aanpak ook belangrik en daarom werk ons so lekker saam,” sê hy.Drie manne wat hande gevat het om renosterstropery te bekamp: (VLNR):John Hooper, bermarkingsbestuurder van Rhino Wines, Nicholus Funda, hoof-veldwagter van die NKW en John Turner, voorsitter van die SANParke Ere Veldwagtersvereniging se Bewaringsdienste se Nasionale Projek

Drie manne wat hande gevat het om renosterstropery te bekamp: (VLNR): John Hooper, bemarkingsbestuurder van Rhino Wines, Nicholus Funda, hoof-veldwagter van die NKW en John Turner, voorsitter van die SANParke Ereveldwagtersvereniging se nasionale projek vir bewaringsdienste. Foto: Ravi Gajjar.

Op die Hoopers se familieplaas in die skilderagtige valleie naby Klapmuts in die Boland was dit eers sy ma, Debbie, wat wyd bekend was vir die handgemaakte bekroonde wyne wat van die spogplaas se kelders kom. Deesdae is dit Brendon Butler wat wynmaker is.

Vir die Rhino Tears-etiket is spesiale wyne op die mark gebring wat deel uitmaak van die Hooper-familie se wynmaakfilosofie om aandag aan detail te gee.

“Vir ons beteken wyn samesyn. Dit bring families saam. Op hierdie manier wil ons ook die natuurbewaringsfamilie saambring,” bevestig Hooper.

Indien jy lus is vir ‘n bekostigbare wyn in ‘n vrugterige styl, is die rooi versnitwyn van die Rhino Tears-etiket, wat die beste Shiraz-, Cabernet- en pinotage-kultivars bymekaarbring, net dié wyn vir jou.

Die Rhino Tears Chenin blanc het weer ‘n tropiese karakter met ‘n vars boeket terwyl die rosé ‘n gemaklike drinkwyn vol soet vrugtesmake is.

Hooper het van die begin van die projek besef hy sal ‘n wyn na die mark moet bring wat liefhebbers onmiddellik kan gebruik want die nood aan die bewaringskant was hoog.

Stap jy ‘n middag lank saam met John deur ‘n rivierbedding in die Nasionale Krugerwildtuin, hoor jy gou hoe gewoond hy aan die natuur se kringloop is en hoe hy eerste bewus raak van ‘n olifant wat roer in die bos en dalk gevaar vir die stappers kan hou. Dis hy wat die stapgids attent daarop maak sodat ‘n ander roete gevolg kan word en wat dadelik die agterhoede inneem.

“Ek voel dieselfde oor wyn as oor bewaring. ‘n Mens moet met omsigtigheid te werk gaan om oor ‘n lang tyd iets standhoudend te bou en te vestig.”

Sy belangstelling in bewaring is voorwaar nie ‘n bemarkingsfoefie nie maar ‘n diep oortuiging waaraan hy opreg gestalte gee. Sy gesprekke met veldwagters van die honde-eenheid wat stropers moet vastrek, wys insig.

Dit kos R250 000 om ‘n enkele veldwagter in die spesialiseenhede met toerusting reg toe te rus om die stropingsoorloë doeltreffend aan te pak. Vanjaar is ook die eerste jaar wat daar ‘n duidelike aanduiding is dat daar ‘n draaipunt bereik is. In die eerste drie maande van 2016 wys syfers dat daar reeds minder renosters vanjaar as verlede jaar gestroop is.

Nicholus Funda, hoofveldwagter van die wildtuin het Hooper en sy span onlangs bedank vir hulle bydrae.

“Danksy Rhino Tears se bydrae kon ons veldwagters en die honde-eenheid beter toe rus en dit het ‘n besliste verskil aan die spropingsoorlog gemaak. Ons veldwagters kan nou ten minste ‘n week lank op die stropers se spoor bly en dit maak dit moontlik om hulle makliker aan te keer.”

Vir Hooper is dit goeie nuus. “Ons beoog om ons bemarking van die wyne nog meer uit te brei sodat ons moontlik volgende jaar ‘n groter skenking kan maak. Die verdienstelikheid van hierdie saak verdien volhoubare ondersteuning. ‘n Verbintenis met bewaring behoort nie korttermyn te wees nie.”

Wingerde van Mount Vernon naby Klapmuts in die Boland.
Wingerde van Mount Vernon naby Klapmuts in die Boland.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button