Roekelose motoriste op Shebaweg ruk nou erg hand uit
Barberton Times doen 'n beroep op hierdie jaagduiwels om te besin voordat hulle voet in die hoek sit. Ons doen ook 'n ernstige beroep op Umjindi-stadsraad om die besluit dat spoedwalle nie aangebring moet word nie, in heroorweging te neem.

Jaagduiwels in Barberton se Shebaweg is geen nuutjie nie, maar volgens die mense wat in daardie omgewing woon, is dit besig om handuit te ruk, ongeag die veelvuldige ongelukke en sterftes wat reeds met die pad verband hou.
Hierdie ellelange pad wat by die R40 en die pad na Kaapmuiden en Bulembu aansluit, was al in die verlede heelwat onder bespreking. Daar is op ‘n stadium gevra dat die stadsraad spoedwalle aanbring, maar dit is van die hand gewys aangesien die pad dikwels deur noodvoertuie gebruik word. Wanneer hulle vinnig by ‘n ongelukstoneel moet uitkom, sal dit hulle taak bemoeilik.
Hoe dit ookal sy, iets sal aan die saak gedoen moet word. Volgens Danny Brink is die vernaamste skuldiges die taxi’s en busse met private motors ‘n kortkop agter. Hy sê dat stopstrate, wit lyne en spoedgrense heeltemal geïgnoreer word.
“Dit is tyd vir spoedwalle. Selfs in McPhersonstraat op pad na Emjindini is daar baie spoedwalle en in ‘n dorp soos Sabie selfs in die hoofstraat.”
Volgens nog ‘n inwoner van die straat, Laura Jane Harrod, is dit geen vreemde verskynsel om in die aand by ‘n stopteken te stop en te sien hoe ‘n voertuig die verkeersteken ignoreer en jou verbysteek nie. “Verlede week het dit weer gebeur – by beide stoptekens,” sê sy.
Barberton Times doen ‘n beroep op hierdie jaagduiwels om te besin voordat hulle voet in die hoek sit. Ons doen ook ‘n ernstige beroep op Umjindi-stadsraad om die besluit dat spoedwalle nie aangebring moet word nie, in heroorweging te neem. Indien dit nie ‘n opsie is nie, vra die koerant namens die gemeenskap dat die sigbaarheid van verkeersbeamptes, veral na ure verhoog word.
‘n Engelse weergawe van hierdie skrywe is gerig aan die munisipale bestuurder, Patrick Msibi. Ten tyde van die ter perse gaan het die koerant nie ‘n antwoord ontvang nie, maar sal die saak weer onder sy aandag bring en ‘n opvolgartikel doen.
