KOMATIPOORT – Om hul waardering vir mnr. Ormond Lombard te wys, het leerlinge en onderwysers van Komatipoort Akademie gereël dat die skoolhoof op sy verjaarsdag vir ‘n helikopterrit gaan.
Die hele skool het vooraf op die paviljoen, vrolik versier met ballonne en baniere, byeengekom. Daar was ‘n opgewondenheid in die atmosfeer, met leerders wat saamgesing en die Meksikaanse golf gedoen het in afwagting op mnr. Ormond Lombard se aankoms.
Met die helikopter se verskyning, is die hoof deur die hoofdogter Angelique Stronkhorst en onderhoofseun Braam Cronjé, wat die vliegrit saam met hom onderneem het, begelei. Hy was duidelik verras.

Ná hulle vertrek, het die leerders vinnig op die rugbyveld vergader en ‘n Komati-hart gevorm. By sy terugkeer en met sy voete weer op vaste grond, het Lombard opgemerk, “Ek voel soos ‘n stout kind. Ek is nog nie by nie. Ek het vandag dinge gesien wat ek nooit gedink het ek sal sien nie. Baie dankie vir elkeen wat die dag vir my so spesiaal gemaak het. Baie dankie vir die personeel wat alles gereël het.”
Die hoofleiers van die laer- en hoërskool het namens al die leerders hulle goeie wense oorgedra.
“Mnr. Ormond het ‘n ongelooflike wonderlike manier om met die kinders te werk en te kommunikeer. Die kinders is mal oor hom, van klein tot groot,” het een van die persoonneellede opgemerk.
