
MBOMBELA – Die groep van 24 leerders moes elkeen ‘n bordjie eetgoed saamvat waaraan die bejaardes heerlik gesmul het.
Die prefekte besoek ook as deel van hulle tweede aksie, die vigswesies van St John’s Sorgsentrum.
“Ons is ‘n omgeeskool met ‘n hart wat warm klop vir die gemeenskap. Dit is beter om te gee as om te ontvang. Hierdie jaar se uitreik na die ouetehuis was geen uitsondering nie en die bejaardes het dit terdeë geniet,” vertel die bemarking- en skakelbeampte van Laeveld, me. Sonja Holtzhausen.
Reinhardt Pieters en Jonty Bleeker het ‘n klavierstuk voorberei, terwyl Mariliaan Willemse en Anja Smit ‘n klavier- en blokfluitstuk gespeel het. Die hoofseun, PJ Coetzee het die bejaardes met ‘n toertjie uit die rolprent, Pitch Perfect bederf. Christa Schutte en Miné Janse van Rensburg het die groep op hulle voete gehad met ‘n dansstuk met linte. Die kuiertjie is afgesluit met die liedjie van Eendag As Ons Groot Is deur Dewald Wasserfall.
Laeveld se gr. 3-leerlinge van juf. Marietjie Green het met ‘n onlangse lessie, waar hulle tandestokkies, asook vrugte en groente saam klas toe moes bring, geleer om groente- en vrugtemannetjies te maak.
“Ons het oor die ses voedselgroepe: proteïene, koolhidrate, groente, vrugte, suiker en suiwel geleer. Die leerders moes hulle eie beplanning die dag saambring skool toe,” vertel Green, wat al 30 jaar by Laeveld skoolgee.
Die juffrou is baie kreatief as dit met nuwe lessies kom. As die leerders die dag van simmetrie leer, moet hulle verf saambring en papiertjies vou, of as hulle van rigting leer, gaan hulle op ‘n skattejag. “Ons maak springmielies en bak ook soms pannekoek wat deel van ‘n les vorm.”
Die groep gr. 3’s is Woensdag na die Sudwala Grotte om meer oor die fossiele, soos die dinosorus te leer.


