NewsSchools

Oggendtee bring tienerdogters en hul ma’s weer bymekaar

Hoërskool Bergvlam het op Woensdag 27 April, 'n heerlike ma-en-dogter-oggendtee aangebied.

MBOMBELA – Prinsesse-in-wording is voorverlede week ‘n bietjie touwys gemaak oor die komende matriekafskeid, terwyl hul verhoudings met hul ma’s ook versterk is.

Hoërskool Bergvlam het op Woensdag 27 April, ‘n heerlike ma-en-dogter-oggendtee aangebied.

Dit was ten bate van die skool se Cinderella-projek wat ten doel het om klere en bykomstighede in te samel om minderbevoorregte leerlinge in arm skole te help om ook hul matriekafskeide spesiaal te maak.

Die ysbreker was ‘n strikkiesvou-uitdaging vir ma’s en dogters. Coba Wilsenach het ‘n eenvrouvertoning gelewer met temas wat aansluit by probleme wat tieners oor die algemeen ondervind.

Dit het gehandel oor ‘n tienermeisie en haar struweling met haar ma voor haar matriekafskeid en drank, dwelms, verhoudings, swangerskap en gesinstrauma is ondersoek. Die skool se skakelbeampte, Mandy Barnard, het opgemerk dat dié opvoering nie ‘n droë oog in die gehoor gelaat het nie.

Sarah Koster van Mica het ook ‘n demonstrasie gehou van Annie Sloane Chalk Paint-produkte.

Bergvlam ma en dogter tee Kayla en Melanie Kleynhans

Delia Moolman van Over the Moon Couture het die dogters kom toespreek oor die moets en moenies van die komende matriekafskeid. Ses leerlinge het ook van haar rokke gemodelleer.

Delia het die meisies aangeraai om te oefen om in hul rokke te poseer deur na rooitapyt-foto’s van die Oscars te kyk.

“En meisies, as jy ‘n kamera sien dan gooi jy daai ‘pose’ wat jy ‘n 100 keer voor die spieël geoefen het.”

Maatskaplike werker en Vlammie-ma, Jolanda Nel, het saam met haar dogter Jana ‘n besondere tas gepak: Jana se lewenstas.

Dit was gevul met boeke as simbool van opvoeding, die Bybel as teken van geloof, ‘n kruis as teken van hoop, ‘n sakkie vol van haar drome, ‘n windomp as haar vertroue en ‘n beursie om verantwoordelikheid te wys.

Bergvlam ma en dogter tee Chandre Oosthuizen

Om as voorbeeld te dien het sy haar ma se pêrels gekry en in haar tas gepak.

As teken van respek is ‘n spieël ingepak. Laastens, as ‘n teken van die liefde van haar ouers, is haar gunstelingteddie ook ingepak

Die oggend is afgesluit met ma’s en dogters wat heliumballonne saam die hemelruim ingestuur het as ‘n simbool van vertroue.

Dit was so ‘n reusesukses dat dit beslis ‘n jaarlikse instelling by die skool gaan word.

  • Lees meer:

Bergvlam se matrieks die tweede beste in Mpumalanga

Hoërskool Bergvlam se eerste spanne slag Sabie behoorlik af

Squillos pays Hoërskool Bergvlam a visit

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button