wildevy 2016
BURGERSFORT – Die gebrul van enjins, kinders wat vol modder laggend rondhardloop en die reuk van boerekos wat in die lug hang; dit was alles vanjaar by die Wildevy 4×4 Gesinsdag. Elke jaar gaan die fees van krag tot krag, meer ryers neem aan die Marone-bergfietsroete deel, meer 4×4-motors durf die hindernisbaan aan en meer …
BURGERSFORT – Die gebrul van enjins, kinders wat vol modder laggend rondhardloop en die reuk van boerekos wat in die lug hang; dit was alles vanjaar by die Wildevy 4×4 Gesinsdag.
Elke jaar gaan die fees van krag tot krag, meer ryers neem aan die Marone-bergfietsroete deel, meer 4×4-motors durf die hindernisbaan aan en meer mense stroom by die hekke in.
Veral die viertrekvoertuie se gebrul en gebeur in die modder en teen die bulte op, het toeskouers laat skaterlag of ‘n sug van verligting laat slaak. Die ou gewilde moddergat was die laaste stop, nadat die bestuurders reeds verskeie hindernisse moes oorkom.
Die voertuie was vuil en die rook het uit die bande getrek, maar almal was vasberade om die moddergat te laat les opsê. Bestuurders met wie Steelburger/Lydenburg Nuus gepraat het, was dit eens dat die 4×4-roete nie ligtelik opgeneem moet word nie. Dit was ‘n goed beplande roete met baie uitdagings wat soms die senuwees laat knaag het.
Die wenner was nommer 36 “Storm”, van Pieter de Jager sr. en Pieter de Jager jr.
Die kategoriewenners kan op die Wildevy se webtuiste gesien word.
Volgens Willem Montgomery, woordvoerder van die gesinsdag, is hulle dankbaar vir die opkoms en bydraes wat vanjaar se Wildevy 4×4 Gesinsdag en Marone-bergfietsroete so ‘n sukses gemaak het.









