
KOMATIPOORT – Kwetternes- en Toddle Tots-kleuterskool, tesame met die laerskoolleerders van Komatipoort Akademie, het aktief en uitbundig deelgeneem aan die vrolike lofprysingsfees wat Willie verlede Donderdag met net sy kitaar en soms ‘n klankbaan, aangebied het.
Ronelle van Staden en haar man het die geleentheid gereël en is deel van Willie se ondersteuningspan. Hulle mikpunt is om 100 optredes vanjaar te doen en kan alreeds 70 suksesvolle geleenthede op die kalender afmerk.
Kinders en onderwysers het vrolik saamgesing en bypassende bewegings op die maat van die musiek gedoen. Die volume- kraan was behoorlik oopgedraai en aan entoesiasme was daar geen tekort nie. “Oom Willie” het duidelik ‘n baie spesiale gawe om deur sy boodskap in sang, tot kinders se harte te spreek.
Op ‘n eenvoudige, opregte en eerlike manier, sonder baie hulpmiddels, bring hy ‘n boodskap van hoop aan die kinders, slegs deur sy musiek.
Hy gee rigting met liedjies soos “Lees Jou Bybel, Bid Elke Dag”, bou hul selfbeeld met “I Love the Way You Smile,” en “Jesus Het My Mooi Gemaak,” bemoedig hul en bring sekuriteit met “Jesus Loves You” en leer hul om op die regte dingte te fokus met “I Wanna Be a Star For Jesus”.
Willie beskou dit as sy roeping om aan kinders die geleentheid te gee om op Jesus te fokus deur sy lewendige sangbediening. Hy weet dat hy geroep is uit Mattheus 19:14, waar Jesus die kindertjies uitnooi om na Hom te kom.
Hy bedien by kleuterskole, laerskole, kerke en kampe. Hy het al verskeie DVD’s en CD’s vrygestel en deur die kinders se passievolle deelname, is dit duidelik dat hulle bekend is, hulle musiek is duidlik baie gewild is.
Sy volgende kinderkamp vir leerlinge van gr. 1 tot gr. 7 is net buite Mbombela by die Ella Combrinck-kampterrein vanaf 26 tot 27 Augustus. Daar gaan behoorlike toesig wees en hy verseker dat dit baie veilig is.
Besprekings kan per sms gedoen word by 082-578-1224 deur die kind se naam, van, ouderdom en skool deur te stuur. Kostes is slegs R180 vir die naweek en kinders word herinner om beddegoed, warmklere, sakgeld, toiletware en eetgerei saam te bring.
