NewsSchools

Kultuurweek by NHS ‘n treffer

Die skool se talentvolle kunstenaars kon hul uitsonderlike talente ten toon stel.

MBOMBELA – Hoërskool Nelspruit (NHS) het verlede week ‘n nuwe en opwindende toevoeging tot die skool se sosiale kalender gemaak. Die Kultuurweek@NHS het vanaf 29 Augustus tot

1 September hope vermaak besorg en die Nellies se ongelooflike kreatiwiteit en talente is ten toon gestel.

Die week het afgeskop met die drama-groep se toneelstuk, onder spelleiding van Frances van Niekerk, Eendag is daar, wat in die skoolsaal opgevoer is. Dié stuk is by die onlangse ATKV-Tienertoneelkompetisie in Ermelo opgevoer en het twee goue, vyf silwer- en ses bronssertifikate verwerf.

Op 29 Augustus is ‘n heerlike piekniek-onder-die-sterre aangebied. Die Nellies het rustig op piekniekkomberse onder liggies wat die bome versier, ontspan en is meegevoer deur die verse en melodieë van hul maats.

Die helder kleure op die plaveisel by die ingang het op 30 Augustus aandag getrek. Leerlinge van die junior grade het tot die kleurvolle sypaadjiekuns bygedra. Die Laeveld se bekende illustreerder, Wouter de Witt, ook bekend as Ghost, se bordkryt-illustrasies het almal stomgeslaan en geïnspireer.

Op 1 September is ‘n spogaand in die skool se restaurant aangebied met optredes deur Shan-Rich Lemmer, René Bekker en Lusanti Brundyn wat almal as afdelingswenners by die onlangse Nelspruit Eisteddfod aangewys is. Daar is met redenaars-

toesprake en opstelle van topgehalte gespog wat reeds vir verskeie kompetisies ingeskryf is.

NHS se koor, wat ‘n goue sertifikaat in die Nelspruit Eisteddfod losgesing het, sowel as verskeie drama en musiekitems het gesorg vir vermaak, terwyl die Nellies se kuns-en fotoklubuitstalling gaste beïndruk het.

Die organiseerder, Magda van der Merwe, het verduidelik dat, hoewel die skool se beplande kultuursentrum nog nie gebou is nie, hulle groot moeite doen om kultuur by die skool te bevorder.

“Ons wou spog met ons kultuurprestasies. Die leerlinge kry nie altyd die geleentheid om iewers op te tree nie.

“Elkeen kon gaste na die spogaand nooi, so die mense wat dit bygewoon het, het ‘n passie vir kuns en kon dit waardeer.”

“Dit bied die kinders ook ‘n veilige omgewing. Van die dramastukke is diep goed wat van die kinders nie altyd verstaan nie.

“Hulle is hoogs begaafd. Dit was van ‘n baie hoë standaard.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button