Droogte in vallei
BURGERSFORT – Boere regoor die land sit met hul hande in die hare. Die rede hiervoor is die ergste droogte die afgelope 30 jaar. Daar is nie ‘n enkele boer wat nie geraak word hierdeur nie. In die hartjie van die vallei, sit ons eie boere in sak en as want beide die Watervals- en …
BURGERSFORT – Boere regoor die land sit met hul hande in die hare. Die rede hiervoor is die ergste droogte die afgelope 30 jaar. Daar is nie ‘n enkele boer wat nie geraak word hierdeur nie. In die hartjie van die vallei, sit ons eie boere in sak en as want beide die Watervals- en die Spekboomrivier is besig om vinnig op te droog. Op die oog af lyk dit nie of die situasie so benard is nie. Lemoenbome het bloeisels en alles lyk groen. Maar stap ‘n ent in die veld in en die rede vir die kommer word duidelik.
Lodewyk de Jager, ‘n boer vir PLM Boerderye boer met sitrus. Hy verduidelik dat hulle vanuit twee stelsels werk, die Waterval en Spekboomriviere. “Elke boer kry huidiglik net 15% van die water wat hy benodig. Boere plant slegs 30% van hulle gewasse juis omdat hulle nie weet of daar water vir die volgende oes gaan wees nie. Dit is ‘n voorsorgmaatreël wat boere lelik knou.” Gerhard van Antwerpen, ‘n gewas en-beesboer, is net so mismoedig. Hy kry sy water uit die Watervalsrivier, maar vrees dat dit ook nie meer lank gaan moontlik wees nie.
“Daar is sprake dat die dam wat die riviere voed einde Oktober gesluit gaan word, hy is reeds op slegs 25-persentkapasiteit, en indien dit onder 20 persent daal gaan water na boere afgesny word. Al wat ons dan het is boorgate as jy gelukkig is.” Hy probeer om eerder klein oppervlakte, groot opbrengs gewasse te plant, maar die probleem is dat hierdie gewasse baie water benodig.
“Op die oomblik plant ons net genoeg om die boerderye aan die gang te hou, ons plant byna 50 persent minder as vorige jare. Ons het reeds werkers afgedank en van ons beeste begin verkoop.” Hy vertel hoe hy van sy oeste moet gebruik om die beeste te voer, Dit veroorsaak nog verdere diesel- en maal-onkostes.
Dit is egter nie net die boere wat geraak word nie maar ook wild. Bokke word snags in kool en lusernlande gevind op soek na ‘n ietsie om te eet.
Dit lok weer roofdiere wat ‘n gevaar skep vir vee en selfs troeteldiere.
Twee dinge is egter seker – die vallei het dringend reën nodig en die boere het nog nie moed opgegee nie. Elke boer is vol moed dat dit spoedig gaan reën.
Mense sover as Origstad en Hoedspruit ry deur Burgersfort toe opsoek na voer vir hulle diere, maar selfs hier kan hulle nie gehelp word nie.
Diegene wat wel voer het, verkoop dit teen ‘n hoër prys om hul eie voortbestaan te verseker. Die situasie is beslis beroerd en die boere hoop dat die waterbeperkings wat hulle ingestel het, hulle sal deurdra totdat dit reën.
Lees meer hier: https://steelburgernews.co.za/195441/disaster-looms-for-communities/
