MBOMBELA – Laerskool Laeveld het die afgelope Saterdag ‘n groot familiedag by Kwanyoni Lodge buite die stad aangebied.
Sonja Holtzhausen, die skool se skakelbeampte, het verduidelik dat daar ongeveer 1 100 besoekers was.
Die primêre fokus was om ‘n geleentheid te bied waar elke gesin gehaltetyd saam kon deurbring.
Maats het saam met hulle oupas, oumas, pa’s en ma’s gekuier terwyl daar ‘n verskeidenheid pretaktiwiteite was.
Daar was bergfietsry, kleilatgooi, vlugbal, visvang, boeresport, kanoritte, perdry, skyfskiet en ook vierwielmotorfietsry. Daar was ook ‘n geleentheid vir familiefoto’s.
Langs die viswaters het die jongmanne gewys hoe die aas gegooi moet word. Daar is krieket gespeel, sakresies gehou en tou getrek. Menige pa’s het gewys waar Dawid die wortels gegrawe het met die toutrek.
‘n Aktiwiteit wat groot belangstelling gelok het, was die helikopterritte wat deur Hover aangebied is.
Kwanyoni Lodge in samewerking met Food Lover’s Market, Vleispaleis en Rooikat Liquors het vir ‘n potjiekos-middagete gesorg. Maats kon ook heerlik aan gratis ysies en koeldrank smul.
“Dit is die eerste jaar dat Laerskool Laeveld so ‘n projek aanpak en die uitkoms was net weereens ‘n bewys dat daar ‘n baie groot behoefte onder die hedendaagse gesinne bestaan om tyd saam as ‘n gesin te spandeer,” het Holtzhausen gesê.







