MALALANE – Die talentvolle leerlinge van Laerskool Malelane was vreeslik opgewonde om verlede Woensdag op die verhoog te klim vir die Lanies got Talent-kompatisie.
Hulle het die vorige week aan oudisies deelgeneem en die beste items in die dans-, musiek- en voordrag en drama-afdelings is genooi om aan die eindronde deel te neem.
Twintig leerlinge het in die verskeie afdelings ‘n saal vol vriende en familie vermaak, met drie beoordelaars wat die wenners moes bepaal.
Verskeie leerlinge het gedigte voorgedra, met Waldo Potgieter se gedramatiseerde opvoering van “Jelly Baby” wat ‘n hoogtepunt was.

Alexa Caldeira het geskitter in haar monoloog, ‘n Afrikaanse vertaling van ‘n paar tonele van die Disney-film, Tangled, waar sy die tweestryd in Raponsie se hart uitgebeeld het.

Klein Makabonge Nyalungu het beïndruk met sy sang en klavierspel en Misha Janson het harte gesteel met haar twist-danspassies en pragtige vertolking van “Stupid Cupid”.

Nqobile Mahlobo se vertolking van “Lean on Me”, met haar twee vriendinne Minky Hoza en Sinokuhle Mnisi, het die gehoor op die maat van die musiek laat saamklap.
Die koor het ook pragtige items gelewer met ‘n mengsel van Afrikaans-, Engels- en Afrika-liedjies. ‘n Koorlid het vir die laaste liedjie die dirigent se plek ingeneem en met groot sukses die groep gelei.
Die paar dansitems was ook puik, met Kamahelo Nchabeleng, Staphy Potted en Isaac Mashaba wat veral uitstekend was met ‘n hip-hopdans uit die Step Up-flieks en die moderne Thousand Years-dansgroep wat ‘n pragtige dansroetine met uitsonderlike sinchronisasie uitgevoer het.

Die Boereseuns se skreeusnaakse en vermaaklike vertolking van Stukkie van der Merwe het hulle die prys vir die vermaaklikste item van die kompetisie besorg. Hulle het al te koddig in hul kruisbande en hoede gelyk, op kitare getokkel, gesing en gedans en net hulle gate uit geniet op die verhoog.

Die leerlinge moes vir ‘n rukkie in spanning wag, sodat die beoordelaars die opvoerings en uitslae kon bespreek. Die wenners het elk ‘n sertifikaat en prys gekry en is met luide applous toegejuig.
Waldo Potgieter het die afdeling vir voordrag en drama gewen, die Thousand Years-dansgroep het die dans gewen en Misha Janson was die wenner van die musiek-afdeling asook die algehele wenner.
