NHS-hoof en nou president
Die geliefde hoof van Hoërskool Nelspruit (NHS), dr. Louis Swanepoel (53) is verlede Donderdag tot die president van die Suid-Afrikaanse Onderwys-unie (SAOU) verkies.
MBOMBELA – Swanepoel was vir die afgelope ses jaar as adjunkpresident van die SAOU betrokke en hy voel dat hierdie ‘n geleentheid is om meer vir onderwys in ons land te kan beteken.
“Ek het ‘n passie vir onderwys, om ‘n verskil in harte van leerlinge te maak. Hierdie posisie stel my in staat om vir meer leerlinge en onderwys-gemeenskappe ‘n beter omgewing te skep en hieroor is ek opgewonde,” het hy gesê.
Swanepoel, wat eers as adjunkhoof in 1994 en toe as hoof sedert 2005 by NHS betrokke is, moet die skoene van die voormalige hoof van Potchefstroom Gimnasium, dr. Jopie Breed wat agt jaar president van die SAOU was, volstaan.
Lees ook: Passie om ‘n verskil te maak
“Ons is saam met hom dankbaar en trots oor die besonderse eer wat hom te beurt geval het,” het die voorsitter van die skool se beheerliggaam, mnr. Louis van der Nest gesê.
Swanepoel het sy B.Com-graad aan die Universiteit van Noordwes met lof geslaag, waarna hy sy honneurs- en meestersgraad in ekonomie, ook met lof geslaag het. Daarna het hy sy doktersgraad in onderwys gedoen.
Hy het sy onderwysloopbaan in 1988 by Gimmies begin, en is drie jaar later as departementshoof aangestel. Hy het in 1994 deel van NHS se familie geword.
Swanepoel behou sy posisie as hoof van NHS, totdat daar duidelikheid van die Mpumalanga Onderwys-departement ontvang word rakende sy verdere aanwending. Die SAOU is tans in gesprek met die Mpumalanga Onderwys-departement om sy posisie as hoof van NHS en pres. van die SAOU uit te klaar.
