Local newsNews

Malelaners wys hul vaardigheid op die dansbaan

Daar is verlede Vrydagaand in Riverview Prep se saal gesokkie, getwo-step en geline dance vir 'n vale tydens Desiland Kleuterskool se boeredans.

MALALANE –  Gesinne en vriende het verlede Vrydagaand heerlik by tafels om die dansbaan gekuier tydens Desiland Kleuterskool se dans in die Riverview Prep-skoolsaal.

Mari Minaar het vir puik musikale vermaak gesorg en die gehoor met countrytreffers en ‘n paar van haar eie pragtige liedjies vermaak.

Mari Minnaar het die gehoor met countrytreffers en ‘n paar van haar eie liedjies vermaak.

Paartjies, vriende en kinders het tot laat lekker saamgedans en Mari het selfs vir ‘n paar mense die passies van ‘n line dance geleer, wat vir groot pret gesorg het.

Nienke, Henning, Wilscott, Brigette en Lizelle Radley, (agter) Mathilda en Philip Nel en Henno Radley.

Daar is vroegaand aan ‘n verskeidenheid vleisdisse en bykosse gesmul en die kleinspan het hulle op die springkasteel moeg gespeel. Ander het hulle later self in komberse toegewikkel en rustig langs hul ouers se stoele aan die slaap geraak.

Ten spyte van ‘n woeste wind en ‘n harde reënbui was die kuier baie gesellig en het verskeie gaste die hoop uitgespreek dat die kleuterskool weer so ‘n geleentheid sal reël.

Desiland bedank graag Malalane Toyota, Neopak, Johan Muller, Johan Cronje, Rio Vista, Danie Louw en Oubaas van Vuuren vir hulle bydrae, asook die personeel en bestuurspan vir die sukses van die aand en almal wat saam kom dans het, vir hulle ondersteuning.

Die kleuterskoolbestuur sê die moontlikheid is groot dat hulle weer so ‘n dans sal reël. Belangstellendes moet dus ‘n ogie op hul Facebook-blad hou vir die aankondiging.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button