By Innibos lig die gordyn vir PG
Twee uiteenlopende tekste uit die pen van PG du Plessis, wat verlede week Woensdag oorlede is, is vanjaar tydens Innibos op die verhoog te sien.

MBOMBELA – Nag van Legio en Koöperasiestories verteenwoordig onderskeidelik die ernstige dramaturg en die volksverteller soos vergestalt in dié gewilde skrywer en storiemaker.
“Klassieke Afrikaanse tekste soos Legio bewys hulle net op die planke, nie in die klaskamers nie,” sê Albert Maritz, regisseur van dié stuk wat in 1969 gedebuteer het en saam met Siener in die suburbs in 1972 met die Hertzogprys bekroon is. “Die stuk het Pretoria destyds omgeboul. En ja, die tyd vra na ‘n ernstige werk uit PG se pen.”

In die rolverdeling van Nag van Legio is André Roothman, Gerben Kamper, Deon Lotz, Duncan Johnson, Hein Poole, Francois Potgieter, Francois Jacobs en Riaan Visman. Die verhaal, ‘n sielkundige riller, speel af in ‘n inrigting en het as tema onder meer manipulasie, magspel en die onderwerping van die individu.
Volgens Albert is elke karakter ‘n uitdaging vir akteurs. Veral Dogoman vra om ‘n baie spesifieke speler, en dié het hy gevind in André. “André het op Stellenbosch gewerk in my studentedae. Hy was betrokke by dr. Ben de Haeck se teatergeselskap en ek was toe reeds beïndruk met sy meesterskap. Onlangse optredes in talle produksies bevestig dat hy net beter word.”

Hy sê voorts van die akteurs speel “sommige reëlreg in teen wat hul gemaksones is”. “Gerben Kamper spreek vir homself. Francois Jacobs het oneindige groei beleef sedert sy eerste treetjies in ‘n Seder val in Waterkloof en in Frats was hy fenomenaal.
Duncan Johnson is bekend vir Getroud met rugby en as aanbieder. Maar hy het sy tande geslyp by dieselfde De Haeck en was briljant in ‘n onlangse hoofrol in ‘n dramatiese musiekblyspel. Deon Lotz speel die eienaaardige Claassens… seker sy grootste uitdaging sedert sy sekstoneel in die rolprent Skoonheid.”
Die lengte van die teks was wel ‘n uitdaging. “In die jare wat die ou tekste geskryf is, het die mense meer tyd,” verduidelik Albert. “Maar die hele rolverdeling span saam om te sorg dat wat op die planke behoue bly, treffend is vir die gehoor. Die enigste manier om aan die kratige kunswerk te snoei, is nes aan ‘n vrugteboom. Net die tippies en stukkies na aan die stam. Die gehoor mag nie agterkom daar is gesnoei nie.”
Koöperasiestories is eweneens tydlose verhale en ‘n nuwe geslag kan nou kennis maak met die volkskarakters Genis, Veldsman en Mietie. Die teks is verwerk deur Alexa Strachan en Sandra Prinsloo is die regisseur.
Dit is veral die menslikheid van die karakters waarmee almal kan identifiseer wat voorop staan. Dié eienskap is dikwels toegedig aan PG, maar in ‘n onderhoud vertel hy eens “hierdie snaar word nie op ‘n teoreties-bedinkte manier aangeraak nie” en noem die Koöperasiestories-verhaal Soontjie. “Dit is seker die beste storie wat ek ooit geskryf het, maar ek het nie gaan sit en gesê magiese realisme en al daardie k*#. nie. Ek het net geskryf.”

Oor die omnibus van Koöperasiestories sê Riaan Cruywagen, die bekende, nou uitgetrede, nuusleser, dat dit van sy gunstelingleesstof bly. “Die boek bevat amper 70 tydlose stories en elkeen is net lank genoeg vir ‘n paar teue yskoue sauvignon blanc onder die sonsambreel langs die swembad.”
In die teaterstuk is Marion Holm as Mieta, Chris van Niekerk as die nugtere Veldsman en Carel Nel as Genis. Ook met Margit Meyer-Rödenbeck en Wessel Pretorius.

