Een van vier scenario’s vir SA moontlik
Frans Cronjé verduidelik in "Suid-Afrika in 2030" dat onsekerhede en ontwrigting toeneem namate 'n samelewing vorder.
Mense staar hulle blind teen die daaglikse nuushooftrekke, en vergeet om na die langer-termyn tendense wat die land se toekoms bepaal, te kyk.
Frans Cronjé, die voorsitter van die Instituut vir Rasseverhoudinge, poog om dít by te lê. Hy het Woensdag met Theo Venter, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit, by die splinternuwe ATKV-Boeke-oase by Hoërskool Nelspruit se kultuursentrum oor sy scenario-beplanning gesels. Sy jongste boek, Suid-Afrika in 2030, is die tweede van ‘n drie-boek reeks wat beplan word oor waar die land heen op pad is.
Dit is ‘n verfrissende toevoeging tot die gesprekke wat meestal oor die letterkunde gaan, en bied ook ‘n insiggewende alternatief tot die Zuma-is-die-bron-van-alle-probleme narratief.
“Mense hou die spring van die bal dop op die nuus. Dit is korttermyn-goed en hulle word ontstig daardeur. Frans kyk na die langtermyn tendense,” verduidelik Theo.
Die president is nié die land se grootste uitdaging nie, die probleme lê veel dieper, aldus Frans wat die boek geskryf het na aanleiding van sy PhD-studie in scenario-beplanning. Sy metodologie het niks te make met voorspellings nie: dit bepaal eerder die faktore met die grootste moontlike impak en die grootste sleutel-onsekerhede. Daarvolgens word vier scenario’s geskets, wat die gebeurlikheid van dinge wat tans onmoontlik lyk, insluit.
“Wie sou, toe Obama sy ‘Yes, we can’-toespraak op die Washington Mall lewer, voorspel het dat Donald Trump die land se volgende president sou word?” vra Theo. “Ek dink nog steeds nie dis moontlik nie,” antwoord hy.
Frans se navorsing het getoon dat hoe sterk die regering is, en in hoe ‘n mate mense se verwagtinge vervul word, Suid-Afrika se twee grootste bepalende faktore sal wees.
Theo wys daarop dat geen land se ontwikkeling ‘n eenrigting-straat is nie. Die idee is van konstante vooruitgang, maar soos ‘n samelewing vorder neem onsekerhede, en ontwrigting weens dit, toe.
“Dis ‘n baie ‘gevaarlike’ ding om dienste te lewer en werk te skep en die hoeveelheid studente wat aan universiteite studeer te verdubbel,” verduidelik Frans oor wat hy as een van die ANC se grootste suksesse beskou. “Dit skep verwagtinge.”
Wanneer daar nie meer aan hierdie verwagtinge voldoen kan nie, weens ‘n swak ekonomie, het jy probleme.
“In enige komplekse stelsel waar ‘n groot getal spelers meeding, is dit belangrik om te kyk hoe hulle dit doen. ‘n Klein verandering in een kan ‘n massiewe verandering te weeg bring,” sê hy. Dink maar net aan een onverskillige bestuurder in swaar verkeer…
Frans se vier scenario’s, geskets volgens die matriks sluit in ‘n sterk staat wat aan mense se verwagtinge voldoen en ‘n swak een wat aan mense se verwagtinge voldoen (albei goeie nuus vir die landsburgers se sakke), ‘n swak staat wat nie aan mense se verwagtinge voldoen nie (min of meer hoe die land tans lyk) en ‘n sterk staat wat nie aan mense se verwagtinge voldoen nie (nie ‘n goeie scenario nie). “Ons sal binne 10 jaar diep in een van dié vier wees,” sê die skrywer.
Die laaste boek in die reeks word beplan vir na 2020 se verkiesing, “wanneer ons finaal sal kan sê waarheen ons op pad is,” sê Frans. In Suid-Afrika in 2030 waag hy om te sê watter een hy dink tans die mees waarskynlike is, en waarom. Koop dit gerus om self uit te vind.
