Local newsNews

Hupse ouma deel Dolla se kollig

Ouma Sarie Engelbrecht het Woensdagaand haar heel eerste selfie geneem - op haar 91ste verjaardag.

Sy het Dowwe Dolla se tweede vertoning by vanjaar se Innibos gaan kyk, en iemand in die gehoor het vir Dolla ‘n tip-off gegee dat Ouma verjaar.

“Dolla het gesê sy weet van iemand in die gehoor wat vandag 91 jaar oud is. Ek het kriewelrig begin raak. En toe sy sê, ‘ouma Sarie Engelbrecht’, toe dog ek ek sak in die aarde weg. Almal het vir my hande geklap en lekker saam happy birthday gesing. Vreemde mense het na my toe gekom om my geluk te wens,” vertel ouma Sarie.

Dowwe Dolla het ná haar show vir ouma Sarie vir ‘n selfie gevra.

“My dogter, Breggie het vir my gesê, ‘mamma, dit is ‘n foto’. En ja, daar het ek nou my eerste selfie. Dit was ‘n aangename aand en Dowwe Dolla het oneindig baie energie.”

Ouma Sarie is met agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders geseën. Die oudste kleindogter kom die naweek die hele pad van Australië af om te kuier.

“O, ek sien so uit om hulle te sien. Dit is ‘n groot voorreg en die lekkerste gevoel om klein- en agterkleinkinders te hê.”

Ouma Sarie vertel dat selfbeheersing en ‘n goeie sin vir humor haar resep vir ‘n gelukkige lewe is.

“My kind, daar kom dinge oor jou pad wat jou toets, en een ding wat ek weet, is dat ‘n mens selfbeheersing moet toepas. En natuurlik ‘n goeie sin vir humor.”

Sy het op die Rand in Krugersdorp grootgeword waar sy ook op skool was. Ouma Sarie bly al ses jaar hier en is dol oor die Laeveld se sonnetjie.

“Ek en Breggie woon nou al vir hoe lank Innibos by, maar my kind, die ou bene is nie meer so aktief nie. Dit is te lekker om soggens op my stoepie te gaan sit en tan.”

“My dogter sê altyd vir my, ‘mamma, trek ‘n short aan om mamma se bene ook te tan’, maar my hande is altyd mooi bruin.”

Ouma Sarie gaan vandag bietjie na die kunsuitstalling in die burgersentrum en wil ook by die Kunste-crawl ‘n draai gaan gooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button