Joe Barbas: Die man agter Ou Joe
Wie weet dat die man na wie hierdie regop klip vernoem is, die anderdag nog in die Laeveld gewoon het?
MBOMBELA – Vir die meeste van ons is Ou Joe langs die N4 teen Patattanek aan die bo-ent van Schoemanskloof bloot ‘n regop klip wat gereeld tot vermaak van verbygangers van voorkoms verander word.
Johannes Barbas het kort na die Anglo-Boereoorlog uit Holland in die ou Transvaal aangekom – eers op die Hoëveld op Ermelo en toe later as padvoorman en sakeman, in die Laeveld. Hy was ook ‘n getroue landsburger en regeringsman wat met beide Wêreldoorloë vir diens aangemeld het.
Ofskoon hy nooit Noorde toe gestuur is nie, was hy op die tuisfront in uniform en het hy as betaal- en kwartiermeester diens gedoen. Administrasie was sy ding. Teen die einde van sy militêre dae het hy tot die rang van kaptein gevorder.

So was hy ook die bestuurder van ‘n padbouprojek toe die nasionale padnetwerk in 1927 tydens die Hertzogbewind ontwikkel is. Hy was betrokke by die bou van onder meer die Schoemanskloofpad om die roete van Pretoria en die Rand na Nelspruit en die res van die Laeveld te voltooi. Destyds was alles nog gruispaaie.
Op gevaarlike hoogtes en draaie is regop klippe as wering geplant en wit gekalk. Een van die klippe was veel langer as die ander en het in die loop van die padbouprojek Joe se naam gekry.
Dit is egter onseker wie eerste was om dié wit klip ‘n gesig te gee. Met die latere teer van die pad, het die padbouers dit sommer met padverf bygekom en so het ‘n tradisie ontstaan wat vandag 90 jaar oud is.

Maar so het Johannes, of Joe, die man, ook in die Laeveld beland. Sy kleindogter Manda de Wet woon weer op Barberton. Sy het my gaan wys waar haar oupa se eerste huis in Nelspruit aan die einde van Van Wijkstraat gestaan het. Dit was ‘n bietjie dieper in agter die huise wat vandag daar te sien is. Destyds was alles nog stofpad en hoewes.

Daarna het hy verder verskuif, bult op, verby die huidige Ferreirastraat heel aan die anderkant van Steiltes op ‘n hoewe teen die hang wat hy Eagles Nest genoem het. Eagles Nest, aan die onder-ent van Challengerstraat, is vandag ‘n deeltitelkompleks. In die aangrensende landgoed, Tawny Ridge het Joe se klipmesselwerk, ‘n braaivleisplek wat teen die skadu van ‘n groot rots onder in sy tuin gestaan het, nog behoue gebly.
Later het Joe en sy vrou, Naomi in Witrivier gaan woon. Hier het hy eenkeer die koerant gehaal toe hy vir 60 jaar van ongeluksvrye motorbestuur vereer is. Hier is hy ook in 1974 op 90 dood.

Volg die legende van Ou Joe vanaf aanstaande week in Laevelder. Op Vrydag 4 Augustus word die eerste van 26 afbeeldings van Ou Joe iewers in die koerant versteek. Hierdie uitgawe bevat ook ‘n netjiese versamelkaart waarop jy jou mannetjies in die regte volgorde kan plak. Elke uitgawe bied ook die kans op ‘n lekker prys sou jy die soek-en-versameltog deurlopend volg.


