Local newsNews

Stropersaak dalk Hoë Hof toe #poachingsyndicates

Dit het Donderdag aan die lig gekom dat Big Joe se saak na meer as vyf jaar, steeds nie begin het nie. #poachingsyndicates

SKUKUZA – Meer as vyf jaar nadat Big Joe Nyalungu – na bewering ‘n sleutelrolspeler in ‘n stropingsindikaat – gearresteer is, het sy hofsaak steeds nie begin nie. Dit het Donderdag aan die lig gekom tydens Nyalungu se verskyning in die Skukuza Streekshof.

Lees ook: “Mishap” causes absence of five accused in poaching case 
Die Nasionale Vervolgingsgesag en Nyalungu se regspan kon nog nie ooreenstem oor die hof waarin die verhoor moet plaasvind nie.
Hy het oor die jare in distriks- en streekshowe in onder andere Mbombela, Middelburg, Mashishing, Bosbokrand en Skukuza verskyn. Die saak teen hom is al meer as 10 keer uitgestel voor dit nog kon begin het.
Hy het Donderdag versoek dat sy saak na ‘n Hoë Hof oorgeplaas moet word.
Landdros dr. Andries Lamprecht het die saak tot 28 November uitgestel, wanneer uitsluitsel hieroor gegee sal word.
Volgens ‘n ooggetuie was Nyalungu Donderdag buitengewoon kalm. Hy het in kakieklere voor die hof rondgestap en met ander vermeende stropers wat ook op borg vrygelaat is, gesels.

Lees ook: Another delay in Rhino case 
Hazyview Herald het vantevore oor Nyalungu se arrestasie berig. Hy is op 12 Desember 2011 aangekeer terwyl hy van Gauteng na Middelburg op pad was en die polisie hom afgetrek het. Daar was na bewering
R3 280 800 kontant sowel as die DNA van ‘n renoster in sy besit.
Toetse het bevestig dat die DNA dié van ‘n renoster was wat vroeër daardie jaar in die Nasionale Krugerwildtuin se Stolsnek-omgewing gestroop is.
Nyalungu is op borg vrygelaat. Op
27 Februarie 2012, het ‘n polisieman wat hom glo as ‘n renosterhoringhandelaar voorgedoen het, na bewering twee horings ter waarde van R346 000 aan Nyalungu verkoop. Op 2 Maart 2012, het nog ‘n kammahandelaar glo vier horings vir
R370 000 aan Nyalungu verkoop. Hy is weer gearresteer en op borg vrygelaat.
Sedert sy arrestasie is daar op kontant en bates ter waarde van miljoene rand beslag gelê – R8,1 miljoen daarvan is in 2013 aan SANParke se ondersoekeenheid vir omgewingsmisdade oorbetaal.
Sy borg is sedertdien teruggetrek, maar weer toegestaan en verleng tot en met sy volgende hofverskyning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button