Jong rugbyspelers gee Namibiërs op eie velde pak
Die o/13-rugbyspan het hul toer na Namibië terdeë geniet en het al drie hul wedstryde gewen.
‘n Groep o/13-rugbyspelers, waaronder spelers van die Laeveld, het die afgelope skoolvakansie nege dae lank in Namibië deurgebring as deel van die J&M Rugbytoer na dié land.
Die 17 jong spelers is tydens die J&M Rugbyweek gekies wat vroeër vanjaar gehou is.
Die seuns het onderskeidelik die volgende laerskole verteenwoordig: Goedehoop, Laeveld, Randhart, Tzaneen en Witrivier.
Lees meer: Rugbyweek se spelers vir toer geslyp
Vision Sport SA wat die toer gereël het, het dit goed gedink om Solly Janse van Rensburg van Laerskool Goedehoop en Iaan Jacob van Laerskool Witrivier te vra om afrigters te wees vir die toerspan.
Dit was sommige van die spelers se eerste vlug in ‘n vliegtuig en besoek aan ‘n buurland.
Die span het drie wedstryde in Namibië gespeel – en gewen – en tussenin op ‘n reeks kulturele en avontuuruitstappies gegaan.
Lees meer: Hoërskool Waterkloof claims sevens cup
Hulle het die eerste dag gebruik om hulle voete te vind en op dag twee hul eerste wedstryd teen Laerskool Walvisbaai gespeel.
Volgens Jacob was die wedstryd omtrent taai. “Dit was ‘n wipplankryery van die eerste minuut af. Teen die einde het die span met 27-26 as oorwinnaars van die veld gestap,” het hy gesê.
Op die vyfde dag van die negedagtoer het die jong Suid-Afrikaners teen die span van Pro Ed Akademie in Swakopmund uitgedraf.
Lees meer: Jong sportsterre skitter by jaarlikse rugby- en netbaldag
“Met die afskop het die span van Pro Ed die voortou geneem. Dit was eers na ‘n harde terugvegpoging (ook teen die wind) dat die Suid-Afrikanertjies 29-10 geseëvier het,” het Jacob gesê.
Vrydag 6 Oktober het die span Swakopmund gegroet en na Karibib vertrek waar hulle hul derde en laaste wedstryd teen Karibib Privaat Skool gespeel het.
Volgens Jacob het die span op ‘n baie ongelyke en plek-plek graslose veld die seuns van Karibib maklik met 37-0 kafgedraf. “Die span wil graag Vision Sport SA bedank vir al die reëlings asook die afrigters wat hul vergesel het.
Verder word dank ook uitgespreek teenoor die seuns se ouers wat dit vir hulle moontlik gemaak het,” het Jacob gesê.
