NewsSchools

Lanies se top Eisteddfod-deelnemers lewer puik vermaak

Die room van Laerskool Malelane se Eisteddfod-deelnemers het verlede Dinsdagaand hul puik vertonings met familie en mede-leerlinge op die skool se verhoog gedeel.

MALALANE – Die Lanies se kultuuraand verlede Dinsdag het bestaan uit leerlinge wat tydens die Nelspruit of Nasionale Eisteddfod hierdie jaar ‘n A++ of Prestige-toekenning behaal het of as die beste in hul onderskeie kategorieë aangewys is.

Die skoolhoof, Mnr Gerben Janse van Rensburg, het aan ouers en leerlinge die belangrikheid van kultuur gepraat en ouers bedank vir die moeite wat hulle gedoen het sodat hulle kinders aan die Eisteddfod kon deelneem. Hy het ook die skool se trots oor die leerlinge se prestasies uitgespreek.

Die program het afgeskop met die oulike Annie Bester se gedramatiseerde voordrag, gevolg deur ‘n groep moderne dansers wat op ‘n ou Engelse treffer hul tegnieke tentoongestel het.

Chawe Nkuna was daarna aan die beurt met ‘n vermaaklike voordrag oor ‘n seun wat ‘n bom by die skool gebou het. Zimri Leuvennink en haar pa, Cobus, het daarna ‘n pragtige duet gesing.

Zimri en Cobus Leuvennink met “You’ve got a friend in me.”

Laerskool Malelane se koor het tydens hul twee optredes die gehoor beïndruk met ‘n mengsel van pragtige geestelike, Afrikaanse en Afrika-liedere.

Moya Grobler het ‘n komiese gedramatiseerde gedig oor die juffrou wat amper alles weet voorgedra voordat ‘n groep balletdansers met pragtige uitrustings grasieus oor die verhoog gedans het.

Martiony Bothma en Danielle van Wyk het die gehoor laat skaterlag met hul samespraak oor ‘n meisie met masels en haar sussie se verbeeldingsvlugte.

Martiony Bothma en Danielle van Wyk as sussies wat droom oor hulle troudag.

Lorater Khumalo het daarna ‘n lewendige voordrag oor “The Reading Killer”  en Nina Bester, ‘n prettige voordrag oor die gevolge van ‘n muis in ‘n huis, gelewer.

‘n Moderne dans groep het met groot passie en elegansie ‘n dans opgevoer, gevolg deur Sandra Shokane se kwaai voordrag van ‘n gedig genaamd “Mad”.

Zimri Leuvenink en Rossouw Jansen het ‘n puik en baie komiese samespraak gelewer oor ‘n tweeling wat die tandarts moet besoek en kwinkslae uitruil, maar naderhand op die vlug slaan omdat hulle te senuagtig raak.

‘n Energieke, maar grasieuse trio balletdansers het daarna die verhoog betree, voordat Misha Janson agter die mikrofoon geskuif het vir ‘n wonderlike vertolking van “Get back up again”, ‘n liedjie van die film Trolls.

Alexa Caldeira het weereens haar talent vir toneelspeel tentoongestel met ‘n monoloog genaamd Die Rabbedoe. Sy het ‘n rateltaai meisie vertolk wat haar boetie en kêrel soms bang maak en wat ‘n meisie oor skinderstories wil terugkry.

Alexa Caldeira

Die aand het met ‘n groot verrassing afgesluit toe die personeel, in skreeusnaakse uitrustings op die maat van twee bekende Afrikaanse treffers gedans het.

Kyk hier na foto’s van die optredes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button