Kleuters het Vrydagoggend gehop, balanseer, vissies gevang en na malvalekkers gehap as deel van Desiland Kleuterskool se bokkesport.
Onderwysers het die speelgrond in ‘n groot hindernisbaan omskep en elke klas het as span dit voltooi.
Spanne het begin deur versigting in ‘n ry bakke met verskillende teksture soos maroelas te trap en het daarna aan ‘n sakresies deelgeneem.

Hulle kon met visstokke met ‘n magneet aan die punt ‘vissies’ vang, waarna hulle ‘n prys gewen het om huis toe te neem.

Seuntjies en dogters het daarna gekyk watter groep die vinnigste ‘n bak water met koppies na ‘n ander bak kon oordra.
Hulle het daarna in ‘n swembadjie vol balle geduik, oor ‘n hoop bande geklouter, gebalanseer en kruip.

Die klasse is in vier gedeel en die groepies het tougetrek teen mekaar.
Hulle moes daarna, hande agter die rug, na ‘n lekkertjie op ‘n toutjie hap.
Die hindernisbaan was nie net groot pret nie, maar kleuters kon nuwe vaardighede aanleer en oefen op ‘n praktiese manier.
KYK: Kids Try 100 Years of the Most Expensive Foods | Bon Appétit
Mid-oggend het die groepe ‘n blaaskans gevat en aan heerlike pizzas, geborg deur Debonairs, gesmul.
Die onderwysers het ook laatoggend die hindernisbaan al laggend aangedurf tot groot vermaak van mede-personneellede en die kleuters.
Desiland hoop om elke kwartaal so ‘n geleentheid te reël en bedank almal wat die bokkesport ondersteun het.
Loer na nog foto’s van die bokkesport hier.
