NHS se redenaars maak opspraak
Altesaam 24 redenaars van Hoërskool Nelspruit het onlangs aan die eerste ronde van die ATKV Redenaarskompetisie in Witbank deelgeneem.

Negentien het deurgedring na die semifinaal wat 8 Junie by HTS Middelburg gehou word.
In die senior onvoorbereide afdeling (gr. 10-12) het ses NHS-leerders opspraak gemaak en sal hulle in die nasionale semifinaal in aksie wees. Mia Dentan, Ernst Pieterse, Danté van der Westhuizen, Milda van Dyk (almal gr. 10) en twee gr. 12’s, Theo van der Westhuizen en Wehan Viljoen moes die gehoor oortuig om of vir of teen die verbanning van die ou Suid-Afrikaanse vlag standpunt in te neem.
Lees ook: Nellies skitter by jaarlikse redenaars
Gerhard van der Merwe en Josua Matthee in gr. 12 en twee gr. 10’s, Melissa Bezuidenhout en Anika Kotze het hulle voorbereide toesprake so goed gelewer, dat hulle na die senior voorbereide afdeling deurgedring het.
Amenda Bunting in gr. 9 het in die voorbereide afdeling vir addisionele taal deurgedring. Ses juniors het aan die onvoorbereide afdeling deelgeneem en Megan Bester, Kian Cilliers en Conrad Joubert (al drie in gr. 8) het in die junior onvoorbereide afdeling na ‘n voorbereidingstyd van 90 minute geslaagde beredeneerde toesprake ten gunste van of teen die gebruik van hommeltuie gelewer.
Lees ook: NHS verwelkom nuwe beheerliggaam
Drie gr. 8’s, Paul Harley, Katrien Hiemstra en Anke Oelofse het hulle in die junior voorbereide afdeling uitstekend van hulle taak gekwyt, terwyl Zandri Hurter en Dawie van Heerden gesorg het dat daar ook gr. 9’s in die semifinaal gaan deelneem.
